Vrou deur honde verskeur
2010-02-04
’n VROU is in die vroeë oggendure van Dinsdag dood nadat sy vermoedelik deur twee Pitbull-terriërs verskeur is. Die polisie is om 04:00 gekontak, nadat ’n persoon op die bebloede liggaam van ’n hawelose vrou afgekom het op ’n oop stuk grond oorkant Hugenote-stasie. Sy het op daardie stadium steeds geleef, maar kort nadat die polisie op die toneel aangekom het, is sy dood. Die bytmerke aan die vrou was tot teen die been en op plekke is hompe vleis van haar liggaam afgeskeur. Die vrou, wat op hierdie stadium net bekend staan as Piksteel, het snags in die omgewing van Hugenote-stasie geslaap. Dinsdag het ander hawelose mense in die gebied met skok kennis geneem van Piksteel se dood. “Hierdie honde val dikwels mense aan. Hulle baas voer hulle nie, en hou hulle nie veilig toegesluit nie,” het haar makkers gesê. Hulle het almal in die rigting van ’n boubesigheid op die hoek van Jan van Riebeeck-rylaan en Ambagsvalleistraat gewys. Maar hiér was geen tekens van honde nie en die eienaar het gesê dat hulle in elk geval nie kan bewys dat dit sy honde is wat verantwoordelik vir die aanval is nie. ’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat die eienaar wel aan hulle gesê het dat hy sy honde veearts toe sal neem om hulle van kant te maak.
More
News
|