Groep-uitstalling op Wellington
2010-02-04
VIER uiteenlopende kunstenaars, onder wie Manfred Zylla, Garth Erasmus, Roderick Sauls en Niklas Zimmer, stal vanaf 10 Februarie by die Breytenbach-sentrum op Wellington uit. Die naam van dié groepsuitstalling is “As is”. Manfred Zylla, wat verlede jaar ook die visuele kunskalender van die Breytenbach-sentrum geopen het met portrette van Saron se mense, is terug met mede-kunstenaars wat almal ’n pad saam met hom gestap het. Kunsliefhebbers kan veral uitsien na ’n verskeidenheid van materiale en benaderings. Zylla en Erasmus se skilderye sal uitgestal word saam met Sauls se drukwerk en Zimmer se uitsonderlike fotografie. Wat hierdie groepsuitstalling nog interessanter maak, is dat dié vier kunstenaars kuns met musiek verbind. Tydens die opening sal hulle ook musiek verskaf en wys hoe die kollektiewe improvisasie tot nuwe ontdekkings kan lei. Hierdie is ’n kunsgebeurtenis om nie mis te loop nie. Belangstellendes kan Olivia Ockhuis kontak by 021-873-2786 of stuur ’n epos na info @breytenbachsentrum.co.za om die opening op 10 Februarie om 18:00 by te woon. Die uitstalling duur tot Vrydag 5 Maart.
More
News
|