HIERMEE wil ek dit net graag onder die aandag van die publiek bring, dat motorfietsryers nie altyd die skuldiges is nie. My seun was in ’n ongeluk betrokke op Vrydag 29 Januarie om 07:40 in Hoofstraat, Paarl (in die omgewing van die KWV).
Ek glo baie mense wat by die ongeluk verbygery het, het weer iets gedink of te sê gehad oor die motorfietsryers.
Ek ry ook fiets en motorfiets. Jy moet baie dink wat om jou aangaan en wat jy moet doen as iets gebeur.
Hierdie keer was dit vir my ’n raaisel. ’n Vriend van my seun het gebel en vir ons gesê dat hy agter in ’n ander voertuig vasgery het.
Op die toneel het ek iets baie interessant gesien. Die motorfiets het geen skade voor gehad nie. Al die skade was agter, met ander woorde iemand het hom gestamp, waarna hy met sy liggaam die ander voertuig getref het.
Ons dank die Here vir sy beskerming oor hom, want hy het net ’n gebreekte sleutelbeen en ’n elmboog wat uit potjie was. Ja, hy het baie kneusmerke en die lyf was seer, maar dankie, hy leef.
Wel, die voertuig wat hom van agter gestamp het, het nie gestop nie en die bestuurder het soos ’n lafaard weggery.
Hy kan mos darem net gesê het dat hy jammer is. Dieselfde gebeur met fietsryers ook.
Waar moet hierdie mense ry om ook veilig te voel? As daar enigiemand is wat vir my meer besonderhede kan gee oor die ongeluk sal ek dit waardeer.