R52m skuld afgeskryf
2005-09-08
DIE Munisipaliteit Drakenstein het besluit om mense wat sukkel om hul rekenings te betaal, ‘n nuwe blaadjie te laat omslaan deur R52 miljoen se skuld af te skryf. Boonop kan gereelde betalers nou groot pryse wen.
Dit volg nadat die burgemeester Herman Bailey in die begrotingstoespraak op 30 Mei vanjaar gesê het dat daar opgetree sal word om die armes te help.
Die R52 miljoen oninbare skuld van belastingbetalers sluit in uitstaande huurgeld van R17,3 miljoen.
Volgens Bailey is 74% van die totale uitstaande huurgeld langer as 90 dae uitstaande.
“Dit blyk dat dit onmoontlik sal wees om ooit dié geld in te vorder.
“Indien ons dié geld afskryf, sal dit nie net ons totale skuldlas verminder nie, die rekeninghouer se rekening sal makliker hanteer kan word en realistiese ooreenkomste kan aangegaan word om enige oorblywende skuld terug te betaal,” het Bailey gesê.
Volgens Bailey wil hy aanbeveel dat voorafbetaalde kragmeters uitgebrei word na alle munisipale huur-eenhede.
Op dié wyse sal alle uitstaande skuld ingevorder kan word en sal dit ook verhoed dat amptenare wat die elektrisiteitstoevoer in die verlede moes afsny, weer in gevaarlike omstandighede hulle werk moet verrig.
Alle uitstaande belastings op huise met munisipale waardasies van R50 000 of minder (wat tans nie onderhewig is aan belasting nie) sal ook afgeskryf word (sowat R10 miljoen).
Boonop sal die skuld van deernisgevalle (huishoudings wat minder as R1480 per maand verdien) ook afgeskryf word (sowat R16 miljoen). Sulke gesinne moet voor 30 September by die Munisipaliteit registreer (indien hulle nie reeds geregistreer is nie) om afslag van R85 per maand op hul rekeninge te kry (water en krag uitgesluit) en vir afskryf van alle skuld van voor 1 Julie vanjaar.
Boonop sal alle huishoudings wat uitstaande skuld van meer as 90 dae tot 30 Junie het, en dit voor 7 Oktober (Paarl) of 15 Oktober (res van Drakenstein) betaal, 50% afslag kry op die bedrag wat hulle betaal op ‘n rand-vir-rand basis.
Die Raad het ook ‘n aansporingsbeloning-skema goedgekeur vir mense wat gereeld hulle rekenings betaal.
Daar is besluit dat ‘n kwartaallikse prystrekking sal plaasvind met ‘n prys in die vierde kwartaal van ‘n motor ter waarde van R100 000. Vir dié doel sal die proses van die toekenning van die prysgeld deur ‘n geakkrediteerde ouditeursfirma geadministreer word.
Volgens Bailey sal die proses op ‘n kwartaallikse basis hersien word en sal daar gereelde terugvoering aan die raad geskied.
Die doel is om gereelde betalers aan te moedig om gereelde betalers te bly; en om nie-gereelde betalers aan te moedig om ten minste hulle lopende rekeninge te betaal.
Gereelde betalers met geen skuld kan R100 000 se pryse wen wat wissel van R4 000 (vyfde prys) tot R50 000 (eerste prys) Mense wat hul lopende rekenings betaal (al het hulle vorige uitstaande skuld) kom in aanmerking vir R7 000 pryse wat wissel van R100 tot R2500.
Vir elke 1% verhoging in die betaling van rekenings kan die Raad sy werkskapitaal (voorsiening vir slegte skuld) met R4 miljoen verminder. Tans is die koers van betaling van munisipale rekenings 94%.
Die heffing van rente en boetes op rekenings sal ook afneem indien die huidige betalingskoers toeneem.
“Daar word gehoop dat met die aansporingsbetalings die Munisipaliteit Drakenstein op die verbuikers-prioriteitslys ten opsigte van rekeningbetalings sal opskuif,” het Bailey gesê.
Die eerste prystrekking word in Desember gehou, wanneer die eerste motor op die spel sal wees.
* The Drakenstein Municipality has announced that R52 million in debt incurred by ratepayers before 1 July this year, will be written off. In addition, debtors who pay remaining debts on their rates from that period will get a 50% rebate. Ratepayers who are up to date with their payment will in future be eligible to win big cash prizes awarded every three months.
More
News
|