Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Chaos by Mall

Chaos by Mall
 
2010-02-04

Lise Beyers

BESIGHEDE by die Paarl Mall het die afgelope naweek derduisende rande in inkomste verloor weens vals bomdreigemente.

Chaos het Saterdagoggend omstreeks 10:30 hiér geheers, toe lede van die polisie skielik vir winkeleienaars in kennis gestel het dat die Mall ontruim moet word weens ’n bomdreigement wat deurgebel is na die polisie se noodnommer.

Nog voordat die bestuur van die Mall in kennis gestel is van die dreigement, het pandemonium losgebars, toe besoekers na die uitgange gestroom het.

Party winkeleienaars het nog nie eers geweet van die dreigement nie, toe honderde mense voor hul oë na uitgange geskarrel het.

Hierna het polisiebeamptes met snuffelhonde die Mall deursoek vir enige ploftoestel.

Intussen was daar ook verkeers-chaos, soos wat mense probeer wegkom het uit dié gebied. Geen verkeersbeamptes was teenwoordig nie, en burgerlikes het ingetree om die stroom verkeer te probeer beheer.

Twee ure later, toe die perseel veilig verklaar is, kon besigheid soos gewoon by die Mall aangaan.

En net toe winkeleienaars gedink het dat die duur poets wat Saterdag op hulle gebak is verby was, is daar Sondag om 13:00 weer ’n oproep ontvang om te sê dat daar ’n bom in die Mall is.

Dié dreigement was glo hierdie keer ontvang by Dischem. Dus is die gebied vanaf Pick n Pay, tot die hoofingang ontruim.

By nadere ondersoek is daar vasgestel dat Saterdag se oproep afkomstig was van ’n publieke telefoon by Perdeberg-gevangenis, maar hier het die spoor doodgeloop. Die polisie stel verder ondersoek in.

Vir winkeleienaars was dit ’n logistiese nagmerrie, weens die feit dat hul winkels propvol kliënte was toe die dreigemente ontvang is.

Talle van hierdie kliënte het die hasepad gekies en is nie weer terug na die Mall nie.

By groothandelaars soos Pick n Pay en Woolworths, is trollies volgepak met kruideniersware net daar gelos.

En by eetplekke soos die Wimpy, is vele maaltye daarmee heen, toe kliënte hierdie perseel summier moes verlaat.

Wimpy-eienaar, Wynand Jooste, het gesê dat sy restaurant Saterdagoggende propvol mense is.

“Toe ons uiteindelik die nuus ontvang het dat daar ’n bomdreigement is, was daar talle maaltye reeds op tafels, en die kombuis was vol bestellings wat moes uitgaan.

“En toe kon ons geen besigheid doen vir twee ure nie. Dit is ’n geweldige verlies vir enige sakepersoon.”

’n Woordvoerder van die Mall, Lisa de Boer, het gesê dat daar wel ’n kommunikasieprobleem was met die polisie, wat Saterdag die dreigoproep ontvang het.

“Ons is oorspronklik deur hulle in kennis gestel dat dit nie nodig sal wees om die gebou te ontruim nie, maar toe die honde-eenheid by die perseel aankom, het hulle wel gesê dat ons moet ontruim.

“Ons het dus waardevolle lesse geleer deur hierdie voorval, wat in die toekoms toegepas sal word. Dit het ook die nood beklemtoon vir nadere skakeling met die polisie. Die oortreder kan tronkstraf kry.”

* Chaos erupted at Paarl Mall during peak shopping hours over the weekend when bomb threats emptied the building twice in two days.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za