Paletmaker skop stof in oë
2010-02-04
’n KAAPSE vervaardigingstegnologie-maatskappy, Lomold, het stof in die oë van die wêreld se voorste innoveerders geskop by die onlangse internasionale JEC Innovasie Toekennings in Parys. Meer as ’n 1000 besighede van regoor die wêreld kry elke jaar die kans om hulle innovasies en nuwe produkte, wat ontwikkel is uit materiale wat die ekologiese volhoubaarheidstoets slaag, uit te stal. Lomold het met die gesogte toekenning in die vervoerkategorie huis toe gevlieg vir die ontwikkeling van nuwe gietvorm-tegnologie om ’n revolusionêre plastiek-palet, wat met lang-glas vesels versterk is, te maak. Volgens een van die direkteure, Pieter du Toit van die Paarl, het hy en sy span kenners die afgelope tien jaar reeds aan die konsep van ’n plastiek-palet gewerk. “Ons is dankbaar vir die erkenning en voel geëerd om die eerste groep in Suid-Afrika te wees wat die JEC internasionale toekenning wen. “Dié palet is sterker en ligter as die houtpalette wat op plase, fabrieke en in die vervoerbedryf gebruik word. “Die verminderde gewig verhoog die potensieel bruikbare vrag en help om energie te spaar sowel as vervoerkoste. “In die VSA alleen is daar op enige gegewe tydstip meer as twee biljoen palette in omgang wat verbruikersgoedere stoor en vervoer. Daar is omtrent sewe palette vir elke persoon wat in die VSA woon. “Neem dan in ag dat sewe palette gelyk is aan ’n hardehout-boom wat 35 jaar oud is. Dit beteken dat die VSA 90 miljoen bome elke jaar moet vernietig om in die behoeftes van sy inwoners te voldoen. “Regoor die wêreld word daar jaarliks 300 miljoen bome vernietig vir die vervaardiging van houtpalette,” sê hy. ’n Fabriek word tans in Taiwan gebou om die palette te vervaardig. Die eerste besending sal na verwagting in Junie na Suid-Afrika gestuur word. Dié fabriek word ontwerp om sowat 4 miljoen plastiekpalette per jaar te vervaardig. Die doelwit is om mettertyd ’n plaaslike fabriek op te rig. Du Toit sê Lomold is in gesprek met Sasol oor die moontlike verskaffing van palette aan Sasol vir die uitvoer van sy chemiese produkte. Sasol kan moontlik ook plastiek-roumateriaal aan Lomold lewer vir die vervaardiging van die palette. Du Toit verwag dat veral die voedselbedryf algaande na plastiekpalette sal oorskakel. Houtpalette moet met insekdoder behandel word om houtkewers weg te hou. Plastiekpalette is meer higiënies en kan makliker skoongemaak word. Lomold se plastiek-palet is herwinbaar en hoef ook nie voor gebruik met plaagdoders gespuit te word om ontslae te raak van ongewenste goggas nie, soos in die geval van houtpalette nie.
More
News
|