EK het onlangs die Paarl-streek besoek en is geskok om te sien dat munisipale dreindeksels gesteel word.
Dit het my aandag getrek toe ek amper binne ’n stormwaterafvoerpyp beland het in Stephaniestraat, Wellington, en dit boonop toe ek my dogtertjie gedra het. Ek begryp dat hierdie optrede ’n massiewe frustrasie vir die munisipaliteite van dorpe moet wees, want eerstens word hul blootgestel aan eise van beserings wat honderde duisende rande kan beloop, maar verder ook diefstal van hul eiendom.
Hierdie optrede raak die gemeenskap aangesien dit die omgewing onveilig maak en ook die belastingbetaler se bates is wat gesteel word vir skrootmetaal.
Waar is die optrede van die gereg teen hierdie soort praktyke? Hierdie deksels is in meeste gevalle gemerk met die name van die munisipaliteite. Hoe kan skroothandelaars die yster inneem?
Kan ons polisie asseblief dit ondersoek en hul vernaamste taak verrig om ons gemeenskap veilig te maak!Ontsteld