“DIE Taalmonument is pragtig en Paarl moet trots wees daarop.”
Dít was die kommentaar van twee groepe Paarliete wat die monument verlede week besoek het danksy samewerking tussen Drakenstein Hospice en die Taalmonument.
Op Vrydag 29 Januarie het ’n groep jong manne, wat deelneem aan Butterfly House se jeugsorgprogram vir naskoolse jeug wat ’n nuwe en beter toekoms vir hulself wil bou, die monument besoek.
Fiona Brophy, Butterfly House se koördineerder, vertel dat dié jong manne daagliks daaraan werk om ’n park in Fairyland skoon te maak en dat hulle goeie raad ontvang het tydens ’n praatjie deur die Taalmonument se tuiniers oor hoe om hul tuin te vestig.
Die groep het ook ’n begeleide toer van die monument onderneem en heerlik piekniek gehou in die tuin.
’n Groep van sowat 20 dagsorgpasiënte van ’n ondersteuningsgroep wat elke Donderdagoggend by die Hospice vergader, en Hospice-versorgers, het ook op Donderdag 4 Februarie ’n uitstappie na die monument onderneem vir ’n piekniek en ’n begeleide toer.