Gewapende roof in Paarlse middedorp
2010-02-11
DIE veiligheid in die Paarlse middedorp is weer onder die vergrootglas, nadat ’n man Woensdagoggend van meer as R40 000 beroof is deur gewapende mans. Die voorval het omstreeks 10:45 plaasgevind, toe ’n man wat van ’n winkel onderweg was na ’n bank op Jan Phillips-plein, skielik oorval is deur twee mans. Die mans, vermoedelik Xhosa-sprekend, was gewapen met pistole. Een pistool is teen sy bors vasgedruk en ’n ander teen sy sy. Hulle het hom beveel om die ‘geld te los.’ Hy het sy swart drasak, waarin die geld was, laat val, omgedraai en weggestap. ’n Ooggetuie het toe gesien hoe die mans in ’n afgeleefde wit Mazda-bakkie spring en wegjaag in die rigting van die Bergrivier Boulevard. Vrae ontstaan nou oor die tekort aan sekuriteit hiér. Onlangs is ten minste vier mense deur ATM-bedrieërs verneuk by banke op die plein en kort-kort word daar by motors ingebreek, ondanks die teenwoordigheid van talle motorwagte. Een winkeleienaar sê: “Weens misdaad en ongewenste persone sluit besighede hulle deure hier, omdat die koopkrag weg is.”
More
News
|