Dak land op vloer
2010-02-11
Lise Beyers
DIE versuim van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement om waarskuwings ernstig op te neem oor vervalle skoolgeboue, het gelei tot 14 skoliere se beserings verlede week. Verlede Donderdagoggend het ’n plafon in ’n klaskamer by Paulus Joubert Sekondêr skielik inmekaargestort en verskeie leerders is deur stukke van die plafon getref. ’n Erg getraumatiseerde Engelse leerkrag, Nunthani Govender, het gesê dat die eerste periode net verby was vir haar graad agts, maar sy het die kinders gevra om te bly sit. “Daar was skielik ’n geweldige kraakgeluid en die volgende oomblik tuimel die plafon in stukke bo-op ons. “Die kinders het histeries begin hardloop na die deur toe. Dit is toe dat van hulle deur vallende puin getref is.” Verskeie leerders is na die hospitaal geneem met ligte beserings, waarna hulle vir die res van die dag huis toe gestuur is. ’n Woedende skoolhoof, Tommy Kearns, het gesê dat hy reeds verlede jaar ’n verslag aan die WKOD gestuur het om hulle te vra om dringend te kyk na die stukkende plafonne. “Maar ons versoek het op dowe ore geval en ons het eenvoudig nie die fondse hiervoor nie. “Ons leerders se veiligheid is ons eerste prioriteit en dit spyt my dat van hulle beseer is in die voorval.” Die rede vir die verswakking van plafonne hiér is die feit dat skrootdiewe die dakplate verniel. Nog ses klasse se plafonne is ook weens diefstal verswak en verskeie kleedkamers is onbruikbaar weens koperpype wat gesteel is. Verteenwoordigers van WKOD het kort ná die voorval besoek afgelê by die skool en belowe om dringend werk te maak van die situasie. * Fourteen learners of Paulus Joubert Secondary School were injured when a classroom ceiling collapsed last week.
More
News
|