Paarl terug in titel-wedloop
2010-02-11
NADAT Paarl Krieketklub se eerste span vroeër Stellenbosch & Distrikte geklop het, maar onverwags teen Wellington vasgeval het, het die Paarliete die afgelope naweek sake reggestel deur met Van der Stel en Hermanus af te reken. Saterdag het Paarl (196/6) vir Van der Stel (194/5) op Bergzicht met 4 paaltjies geklop. Vir Paarl was Hein Adonis (2/45) die beste bouler, met Godfrey Stevens (59), Lee-Roy Walters (45) en Robin Andrews (46*) wat met die kolf aan hul span ’n welverdiende oorwinning besorg het. Sondag het Paarl (161/5) in nóg ’n wegwedstryd vir Hermanus (158/7) met vyf paaltjies geklop. Paarl se boulers het almal goed geboul en die lopies beperk, met A Adonis (2/28) en Clayton August (2/26) wat die meeste skade verrig het. Stevens (34), Darryl Hendricks (40), Walters (43*) en Andrews (27*) was Paarl se voorste kolwers. Paarl IV het op sy beurt vasgeval teen Oostelikes III op Kraaifontein, ongeag C Paulse se 5 paaltjies tydens dié wedstryd. Eerskomende Saterdag speel Paarl I op New Orleans teen Paarl-Oos I, Paarl II en III speel teen Brackenfell II en Spes Bona II op die Parys-velde. Sondag speel Paarl I teen Maties op Parys.
More
News
|