Let’s Play jaarwenner gekroon
2010-02-11
Jaco van Wyk
PAARL POST en Supersport het onlangs met trots sy heel eerste Let’s Play Sportster jaarwenner aangewys. Die keuse van die driemalige Biathle-wêreldkampioen, Luan van der Vyver (13), was uiteindelik ’n gewilde en welverdiende keuse, hoewel Luan kwaliteit-teenstand moes afstof om dié titel te verower. Wat Luan se keuse selfs meer verdienstelik maak, is die feit dat hy om die regte redes aan sport deelneem, naamlik omdat hy dit geniet. “Al is oefeninge soos swem soms harde werk, sien ek dit nie regtig as oefen nie. Ek sien dit eerder as lekker kuier saam met vriende in ’n swembad,” sê dié leerder van Laerskool Hugenote in Wellington, wat ook uitblink in ’n aantal ander sporte. Luan besef egter goed dat dié “kuiers saam met vriende” nie sonder toewyding en dissipline gepaard gaan nie. Hiervan getuig sy oorvloed toekennings beslis. Daar is boonop net een manier om bo uit te kom: “Dit is vir my lekker om te wen, want dit maak die harde werk op die ou einde die moeite werd,” sê Luan. “Maar dit maak ook nie regtig saak nie, want ek geniet elke oomblik van oefeninge en dit is in elk geval net lekker om sport te kan doen.” * Met 2009 se maandwenner, asook die heel eerste jaarwenner nou in die sakkie, is Paarl Post en Let’s Play op soek na 2010 se sporthelde van die toekoms. Laerskole, hoërskole en klubs word dus uitgenooi om leerlinge te nomineer vir die maandelikse sportstertoekenning, met die eerste maandwenner wat einde Februarie aangewys sal word. Rig gerus ’n e-pos na sport@paarlpost.co.za, of kontak 021-870-3705.
More
News
|