Peoples rugby lyk slaggereed
2010-02-18
VIR die eerste keer in hul geskiedenis, het Young Peoples Rugbyklub daarin geslaag om af te reken met die span van Abbottsdale, tydens ’n vriendskaplike kragmeting, met ’n welverdiende 24-5 oorwinning op laasgenoemde se tuisveld. Die stryd tussen die voorspelers was verwoed en Peoples se voorry, met Bjorgan Julies aan die spits, het die tuisspan laat swaar leef in die skrums. Young Peoples het eerste punte aangeteken toe Vrystaat Fredericks langs die pale oorgeduik het vir sy drie. Delwayne Cornelissen het met die doelskop geslaag. Die Tiere se hantering was nie van die beste nie en heelwat kanse vir drieë het sodoende verlore gegaan. Nietemin was die Tiere steeds die beste span op die dag, met verdere drieë deur Giezler Sitzer, Oswill Thomas en Lorenzo Jacobs. Die Tiere se tweede span het 0-12 verloor en die o.20’s het 5-7 verloor. Peoples bied 19 Februarie ’n Valentyns Piekniekdans aan in die Huguenot Gemeenskapsaal teen R60. Musiek word verskaf deur die Worcesterians Dance Band.
More
News
|