Edu steeds op koers
2010-02-18
NÁ ses wedstryde is Drakenstein Edu se eerste krieketspan steeds onoorwonne en, met die einde van die krieketseisoen in sig, is hulle oorgehaal om titel-glorie te proe. Edu het egter hul laaste wedstryd se punte byna letterlik op ’n skinkbord ontvang toe Oostelikes se tweede span nie opgedaag het vir hul wedstryd nie. In ’n ander kragmeting het Edu se tweede span hul klubnaam hoog gehou deur Young Peoples III se bekerdrome tot ’n einde te bring met ’n 5-paaltjie oorwinning. Stanton Kamalie (78) en G Fortuin (46) het goed gekolf om by te dra tot Peoples se 214/10 ná 44,2 boulbeurte. Edu se boulers was egter op dreef, met Henley Julies (2/18), Byron Botha (2/9), Gershon Witbooi (2/45) en Ryan Carolissen (2/32) wat goed vertoon het. Drakenstein se kolwers G Cook (55), C Carelse (38) en Carolissen (36) het goed vertoon met die kolf. Eerskomende naweek speel Edu I teen Stellenbosch en Distrikte II op Labori se veld.
More
News
|