Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Hoekom skeep Munisipaliteit die Paarl af?

Hoekom skeep Munisipaliteit die Paarl af?
 
2005-09-08


‘n DAG in my lewe begin in Noorder-Paarl, met ‘n stort waarvan die water nou al vir twee dae lank ‘n bruinerige kleur het.

Sesuur is daar ‘n kragonderbreking. Nou is dit rondskarrel vir lampe. My dogtertjie moet maar haar pap koud eet en my baba haar bottel koud drink.

Nadat almal klaar en reg is, kan ons in die pad val. Dit is natuurlik die kinders se gunstelingtyd, want vir hulle voel dit soos ‘n knortjorbaan, want dis dan aan die linkerkant van die pad en dan aan die regterkant, dit net om al die slaggate te mis.

Hier en daar moet ek deur ‘n plas water ry, net om uit te vind dat daar is ‘n slaggat in verskuil is.

Vanaand tydens badtyd wil my dogtertjie weet wat ek in die water gegooi het, want die water is bruin en daar is grond in.

So, vanaand se bad moet maar oorstaan en die tande maar met bottelwater geborsel word.

Dit alles nadat die munisipale werkers onlangs gestaak het en my drom vir twee weke en ‘n dag gestaan het, vol babadoeke en nog wat.

Die dromgrawers het ‘n fees gehad en ‘n groot gedeelte van die vullis wat in my drom begin het, het in my tuin geëindig.

Ons Munisipaliteit doen blykbaar nie onderhoud nie. Dit is maklik om te sê dis ‘n Eskom fout as die krag gedurig af is in Noorder-Paarl, maar dit gebeur darem net eenvoudig te gereeld.

Dieselfde met die onderhoud van die paaie en al wat die Munisipaliteit doen is om gruis in die gate te stop. Met die volgende reënbui is die gat maar net weer daar en natuurlik groter.

Ek weet natuurlik dat die antwoord hier gaan wees dat daar nie genoeg geld in die begroting is nie, of dat daar eenvoudig nie geld is nie. Ek verstaan net nie hoe daar dan geld is vir ‘n nuwe ampsmotor, buitensporige verhogings vir bestuur, skeidingspakkette en skootrekenaars nie.

Ek wil weet of die Munisipaliteit gaan betaal vir skade aangerig aan my elektriese toerusting weens kragtoevoeronderbrekings en my geyser as hy skade kry weens modderwater?

Dan praat ek nog nie van die skokbrekers op my motor wat meer gereeld vervang moet word en my wielsporing wat elke ses maande gedoen moet word nie.

Ek dink ons Munisipaliteit moet ‘n slag mooi gaan besin oor wie dit regtig is wat hulle salarisse betaal en wat die impak gaan wees as daardie toevoer skielik ‘n onderbreking ondervind.

Geld-gieter

'n Munisipale woordvoerder reageer: Daar was die afgelope week 13 gebarste waterpype in die Paarl, waarvan verskeie in Noorder-Paarl.

Dit is waarskynlik toe te skryf aan die hoë reënval en nat grondtoestande. Alhoewel die lyne so goed moontlik gespoel word, het die breuke ‘n invloed op die kleur van die water. Indien die skrywer die departement laat weet van haar adres, kan weer in dié omgewing gespoel word.

Die laaste kragonderbreking in Noorder-Paarl was op Dinsdagoggend 23 Augustus as gevolg van ‘n kabelfout in Langstraat. Vorige onderbrekings was wel vir ander redes en veranderings is aangebring wat die situasie behoort te verbeter.



More News
  • Name change comes with new commitment
  • Maar moeilik met diens in middedorp
  • Rooi linte nie vir vandalisme
  • Moenie die naam verander nie
  • We can make a difference
  • Doen julle werk!
  • SMS
  • Peace under the (Linden) trees
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za