Peoples leer Weskussers ’n krieketles
2010-02-18
DIE eerste krieketspan van Young Peoples het Saterdag skitterende krieket opgedis om vir Vredenburg/Saldanha behoorlik ’n krieketles te leer. Die manne van die Weskus het eerste gekolf en kon slegs 92 lopies bymekaarskraap, nadat Peoples se boulers behoorlik gekook het. Charlton Daniels (3/17), Lorenzo Jacobs (2/20) en Brendon Adams (2/24) het Peoples se boulaanslag gelei. Peoples het gaan kolf en was vroeg in die knyp op 10/2, maar te danke aan hardnekkige beurte deur die kaptein, Adams (45*) en Dominic Daniels (24), kon Peoples die wentelling van 95/4 redelik maklik behaal. Peoples se tweede span (196/10) het weer hul rieme styfgeloop met ’n verloor teen Paarl-Oos II (197/6) op Daljosafat. Peoples se derde span het ook vasgeval teen Drakenstein Edu se tweede span op Hoërskool Labori se veld. Saterdag speel Peoples I tuis teen Stellenbosch & Distrikte, die tweede span speel weg teen Northdene en Peoples III speel ’n Pro20-wedstryd teen Drakenstein Edu III op Daljosafat. Alle wedstryde begin om 10:30.
More
News
|