AS inwoners van Atlanta-woonstelle en omgewing in die Paarl is ons nou regtig raadop met die vervalle ou huis wat geleë is op die hoek van Loop- en Derksenstraat.
Daar word vanaf 2005 gepoog om hierdie huis gesloop te kry.
Vanaf 10 Julie 2008 was ek self betrokke by hierdie aangeleentheid. Ek het my verskeie kere gewend tot die gesondheidsinspekteur van die Distriksraad asook verskillende vergaderings belê met talle amptenare van die Drakenstein Munisipaliteit.
Daar is ook ’n verslag uitgebring dat dié spesifieke huis as bouvallig verklaar is.
Ons as inwoners van Atlanta-woonstelle en omgewing kan eenvoudig net nie meer die onaangename reuk van menslike ontlasting en urine uithou nie. Die plek is nou regtig ’n openbare toilet.
Seks word helder oordag beoefen buite op die gras, en vreeslik laakbare taalgebruik word dag en nag aangehoor.
Ek verstaan dat daar nou ge-poog word om die plek te laat omhein. Hoe lank voordat daar gate in die draad geknip word?
As daar vanaf 2005 tot vandag regtig ernstig aandag gegee is deur die munisipalitieit en bewaringsraad en gebruik gemaak is van die wetgewing tot hulle beskikking, sal ons nie nou met die gemors gesit het nie.
Die rotte hardloop in Atlanta se tuin en was selfs al in inwoners se woonstelle.
Daar is bitter min oor om van die huis te bewaar - die houtvloere is uitgebreek, asook binnemure en selfs van die dakkappe en plate. Hier is eenvoudig niks te red nie.
Ons as Atlanta inwoners vra dat die Paarlse Munisipaliteit en die Erfenisraad nou ’n dringende besluit moet neem dat die huis gesloop kan word.
Atlanta-inwoners moeg gesukkel