Verskeie hoogtepunte tydens Agri Cape Week
2010-02-18
DIE Agri Cape Week, wat vanaf 15 tot 17 April by Hoër Landbouskool Boland in Agter-Paarl aangebied word, fokus spesifiek op die vrugte-, wyn-, en groentebedrywe in die Wes-Kaap. Verskeie aktiwiteite word weer vir hierdie geleentheid beplan, insluitende werkwinkels en inligtingsessies vir die onderskeie bedrywe, asook kompetisies, skolebetrokkenheid en vermaak. Een van die hoogtepunte op die program wat goeie waarde sal toevoeg, is ’n Agritoerisme-werkwinkel wat tydens Agri Cape Week aangebied gaan word. Die bekende Peter Myles, ’n toerismespesialis wat tans betrokke is by ’n hele aantal gesogte projekte, sal as hoofspreker tydens die werkwinkel optree. Die werkwinkel sal spesifiek fokus op plaaseienaars wat die potensiaal van landbougerigte toerisme-aktiwiteite soos self-sorgeenhede, 4x4- en staproetes in die Wes-Kaap wil ontgin en plaaseienaars word juis aangemoedig om bestaande hulpbronne, soos leë plaashuise, te omskep in ’n bron van inkomste. Nog ’n hoogtepunt op die program is ’n Nasionale Olyfkonferensie met internasionale sprekers van Italië en Spanje asook plaaslike spesialiste in die olyf-industrie, soos Carlo Costa van die LNR (15–16 April). ’n Verdere fokus vir die olyf-industrie is ’n olyfverwerkingsdag in samewerking me SA Olyf Industrie Assosiasie. ’n Omvattende damesprogram sal vir goeie vermaak en heerlike bederf vir die dames sorg. Op dié spyskaart is daar onder andere ’n vroue-oggend in samewerking met Tuis-tydskrif op Donderdag 15 April met die tema: Tuindekor – ons kyk na binne en leef na buite. Koste beloop R200 en sluit ’n laat-ontbyt in. Bespreek by Elma Brand van Mega Events by 021-863- 0397 of events@agrimega.co.za Toegang tot die skou is gratis vir die publiek. Vir meer inligting oor die damesprogram en ander werkwinkels, kontak vir Elma Brand by 021-863-0397/events @agrimega.co.za. Uitstallers kan vir Cornea Geldenhuys by Agri Mega se kantoor kontak by 028-424-2890 of besoek www.agrimega.co.za vir meer besonderhede.
More
News
|