Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Fabriekplanne hang aan draadjie

Fabriekplanne hang aan draadjie
 
2010-02-18


'n BEOOGDE fabriek wat ’n groot ekonomiese inspuiting vir die Drakensteingebied kan beteken, is vermoedelik van die baan, weens politiekery.

Die houervervaardigingsmaatskappy, Capetainer, wat reeds jare lank by die Drakenstein Munisipaliteit aansoek doen vir ’n stuk grond om ’n fabriek in die Paarl-streek te bou, se planne hang nou aan ’n draadjie.

Capetainer het sy oog op ’n deel van die terrein van 240 hektaar (plaas 736) in die Klapmuts-omgewing. Sou hul planne slaag, sal dit waarskynlik ’n massiewe finansiële inspuiting vir Drakenstein Munisipaliteit kan beteken.

Capetainer wil ’n gedeelte van dié grond vir ’n houeraanleg gebruik en vir ongeveer 2500 mense werk verskaf.

Bykomend tot die aanleg, wat vraghouers vervaardig, word daar ook ’n binnelandse houerdepot en vrugtepakstoor beplan, aangesien Kaapstad-hawe tans nie verder kan uitbrei nie. Voordele is die nabye ligging van die N1 en spoorlyn om die vraghouers na die Kaapstad-hawe te vervoer.

Dié stuk grond, waarvan 60 hektaar geoormerk is vir grondeisedoeleindes vir die Sakkieskamp-eisers, lê ook deels in die Stellenbosch Munisipaliteit-area. Dié stuk grond strek oor die N1-snelweg.

Alles is darem nie finaal verby nie, maar die tyd loop uit, sê Petrus Jooste van Capetainer.

“Vir ’n hele paar jaar kon daar nie uitsluitsel gegee word oor presies wat gaan gebeur nie. Dit het ons nogal erg deurmekaar gelaat, maar ons eerste opsie bly nog steeds hier in die Paarl.

“Dit het voorgekom asof die Raad en amptenary verby mekaar werk veral omdat ons op raadsvlak goedkeuring verkry het om ’n gesamentlike taakspan daar te stel om ’n nuwe ontwikkelingsplan en lewensvatbaarheid op te stel.

“Ons is nou besig om te onderhandel met ’n ANC-taakspan en met die Wes-Kaapse regering en sal daarna ’n besluit neem.

“Indien ons wil voortgaan sal die onderhandelinge deur Wesgro plaasvind. Daarvoor gee ons nie om nie, want ons het reeds suksesvol met hulle saamgewerk,” sê hy.

’n Woordvoerder van Drakenstein Munisipaliteit sê dat die Raad die aansoek van Capetainer gekanselleer het aangesien die uitstaande dokumentasie na verskeie probeerslae nie van Capetainer ontvang is nie.

“Hulle het nie hulle swart bemagtingstatus, finansiële vooruitskatting en besigheidsplanne betyds beskikbaar gestel nie. Ons kan tog nie iets daar toelaat as ons nie weet wat dit is nie.

Volgens pastoor Graham Taff, wat Capetainer se swartbemagtigingsaksie verteenwoordig, mag dit wees dat nie almal in die Raad dalk verstaan hoe Capetainer se breedgebaseerde swartbemagtigingsplan deur 25% aandele aan hul werkers te gee, werk nie.

Daar word nou wyd bespiegel oor wat hier verkeerd gegaan het, aangesien Petrus Jooste van Capetainer reeds by ’n vorige geleentheid gesê het dat alles reeds in 2006 op provinsiale en nasionale vlak goedgekeur was.

Die verkoop daarvan was toe onderhewig daaraan of Capetainer die gebied suksesvol kon hersoneer en of daar enige besware ingedien sou word.

Die hersoneringsproses is vertraag weens die Munisipaliteit se onvermoë om tot ’n besluit te kom, sê Jooste.

* A factory which could create many jobs in Drakenstein, is likely to be shelved following delayed decisionmaking by the municipal council.




More News
  • Manager did much good work
  • Zandwyk Park goes ahead
  • Rare wines hold their own at auction
  • Multiple awards for Grande Provence
  • Grondkundige kragte saamgespan
  • Fairtrade vloei suiwer by Bosmans
  • Sweet success for Nederburg
  • “TERROIRIST” at Nederburg Auction
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za