EK wil die Paarl verkeersafdeling geluk wens met die dame-verkeersbeampte wat diens doen by die hekke van Gimnasium Hoërskool in die Paarlse Hoofstraat.
Die blymoedigheid en vriendelikheid waarmee sy haar uiters professionele werk doen, is aansteeklik!
Met die swaar verkeer voor agt-uur soggens is mense geneig om bot en suur te wees. Maar as ’n mens in hierdie betrokke dame se omgewing kom, straal sy van vriendelikheid en plaas mens onwillekeurig in ’n beter, sonnige bui - dit maak nie saak of dit stortreën of baie warm is nie.
Ek wil haar namens alle inwoners bedank vir die mooi begin van elke werksdag - sy is vir ons almal ’n voorbeeld en inspirasie!Lydia Corbett