Shoprite se kliënte versus Paarlse taxi's 2010-02-25
GRAAG wil ons ons misnoeë uitspreek oor die misgunning van kliënte-staanplek by Shoprite.
Ons koop vir jare by Shoprite en omliggende winkels. Dis al ’n instelling om daar te parkeer en al jou inkopies daarvandaan te doen met pa wat in die kar bly sit.
Deesdae is dit egter geen plesier nie. Taxi’s beset die hele parkeerarea in so ’n mate dat ons nou by ander supermarkte of Paarl Mall gaan inkopies doen.
King Pie is een van ons gunstelinge, maar ook hier ry jy liewers verby, want jy kry nie staanplek nie.
Die taxi’s maak dit ’n baie onaangename uitstappie. Hulle stop waar hulle wil, selfs al beteken dit dat jy agter hulle moet staan en wag.
Blaas jy jou toeter om verby te kom, raas en skree hulle op jou.
Wat het geword van hul geallokeerde staanplek onder die bome? Wie se plig is dit om die staanplek op die taxi’s af te dwing?
Dis dan nou ’n wit olifant, net enkele taxi’s staan daar. Ons is raad-op van die taxi’s.
Shoprite doen iets - julle besef dit nie, maar julle verloor kliënte, glo my.Vorige Shoprite-kliënteDie Drakenstein verkeershoof, Japie Cornelissen, reageer: Dit was moeilik in die verlede om met Taxiverenigings te kommunikeer, maar ons is nou redelik gestruktureer om oor relevante kwessies gesprek te voer. Hierdie punt sal by die volgende Taxi Skakelkomiteevergadering dien.