Paarlse meisies veg hard in 4M
2010-02-25
DIE Paarlse meisieskole, La Rochelle en Hoër Meisieskool, het verlede Donderdag sterk teenstand gebied tydens die jaarlikse 4M atletiekbyeenkoms wat op Coetzenburg plaasgevind het. La Rochelle en HMS het onderskeidelik tweede en derde geëindig, met Bloemhof wat weer eens aangewys is as die wenskool. Rhenish was vierde. Al vier skole het egter met groot entoesiasme meegeding en dit was naelbyt en senuwees soos La Rochelle en HMS plek-plek vir Bloemhof verbygesteek het. Sowat ’n uur voor die byeenkoms se einde was dit nog nie duidelik wie die algehele wenners was nie, en elke punt het getel. Uiteindelik het La Rochelle tweede gekom met 405 punte, teenoor Bloemhof se 439. HMS het 369 punte behaal en Rhenish 133. Vir La Rochelle was Courtney du Plessis (11,09m in driesprong) een van die top-atlete van die dag. Sy was gekroon as die beste o.19 atleet. Aan HMS se kant het Marsunet Breytenbach gewys sy is ’n atleet om fyn dop te hou. Sy het 5,19m gespring (verspring) en is aangewys as die beste o.15 atleet van die dag. Ander rekordbrekers vir HMS was Aletta Swart (diskus), Marise Malherbe (800m; 2de in 400m onder rekordtyd) en Christel van Tonder (400m).
More
News
|