Die HA!Man maak musiek by Ou Meul
2010-02-25
ALMAL wat die improviserende tjellis, Francois le Roux ken, weet hy is die HA!Man, maar nie al die aanhangers van die HA!Man weet altyd dat sy regte naam Francois le Roux is nie. Of dat hy in Brixton grootgeword het en op tien jaar al ’n vaste pos as orrelis van die NG Kerk Cottesloe gehad het. Die HA!Man is Vrydag 26 Februarie om 20:00 te sien by die Ou Meul-teater. Hy maak musiek oor die wêreld heen en gee van sy siel waar hy ook al kom. Elke jaar doen hy konsertreise van twee maande in Europa, twee maande in Noord-Amerika en dan ook so twee weke in Asië. Op sy onlangse toer deur Europa was hy in agt lande waar hy 28 konserte en slypskole aangebied het. “Ek wil my gehoor meesleur, maar hulle ook nader aan hulle eie wese en gevoelens bring. Deesdae bring ek beeldprojeksies en teks by wat die musiek aanvul. “Ek werk dikwels ook saam met kunstenaars uit ander dissiplines, soos skilders, digters en beweginskunstenaars. En asseblief, ek wil tog net nooit op een plek gaan stilstaan nie.” Kaartjies is R80 per persoon (R40 vir skoolkinders). Bespreek by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of vstemmet@gmail.com.
More
News
|