Valiant Swart kuier in die Paarl
2010-02-25
BEKENDE sanger Valiant Swart vier vanjaar ’n besonderse mylpaal: twintig jaar op die verhoog. Hy is Saterdag 27 Februarie om 20:00 by die Ou Meul-teater op die planke. Hy het in 1990 sy eerste ‘Valiant Swart Band’ op die been gebring, en vanuit die studentekroegies van daardie begin-jare gevorder tot nasionale sterstatus. Vandag is Valiant ’n huishoudelike naam en gevestig as een van die voorste liedjieskrywers en verhoogkunstenaars in Suid-Afrika, met veertien albums en ’n paar TV-trefferreekse op sy kerfstok. Soos sy aanhangers sou kon verwag, het Valiant se 2009-reis op die agterpaaie heelwat inspirasie vir nuwe liedjies opgelewer. Hierdie liedjies is reeds besig om hulself tuis te maak in sy verhoog-repertoire. Sommige ou gunstelinge is ook herontdek, afgestof en ’n nuwe baadjie gegee. Nes in die verlede, sal Valiant se solo-optrede intiem en sielvol, met bittersoet kitaar en stories vol deernis en humor wees. Kom luister sommer maar self. Kaartjies is R80 by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of vstemmet@gmail.com.
More
News
|