Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Loffie wil Boland se trots herstel

Loffie wil Boland se trots herstel
 
2010-02-25

Jaco van Wyk

DIE hart van ’n leeu en ’n paar knippies Springbok-inspirasie!

Dié bestanddele mag dalk net die kern vorm van ’n wenresep - ’n resep wat die trots in die Boland Rugby-unie sal herstel.

Die trots wat eens op ’n tyd ’n kenmerk was van optimistiese Kavaliers-ondersteuners, in die dae toe die manne in swart en goud nog ’n gevreesde span in SA Rugby was, is juis wat die voormalige Leeus-afrigter, Eugene Loffie Eloff, eerste in sy visier het.

“Ons wil hê mense van die Boland moet die Kavaliers ondersteun omdat hulle glo in ons as ’n span,” sê Eloff oor sy planne.

“En hoe gaan ons dit regkry? Deur wenrugby te speel.

“Die klem sal dus daarop lê om die Boland Rugby-unie ’n professionele, goed-georganiseerde unie, te maak,” sê Eloff.

“Professionalisme is gelukkig iets waarin Boland Rugby se president (Francois Davids) ook sterk glo.”

Volgens Eloff was sy eerste bevinding van die Kavaliers dat dit ’n span is wat oor die laaste paar jare uitmekaargeval het.

“Daar was ’n gebrek aan dissipline by die unie. Spelers was nie goed-gekondisioneer nie, hul motiveringsvlakke was laag en spelers het vertroue verloor in hul afrigters. Ek wil dit graag herstel,” sê Eloff beslis.

Hoewel ’n aantal gesoute spelers verlede jaar die Boland-unie verlaat het, het die Wynboere nie gaan plat lê nie.

Trouens, hulle het geen Springbokke verloor nie, maar wel in die laaste paar maande altesaam drie voormalige Springbokke bygekry, in die vorm van Hilton Lobberts (flank), Hottie Louw (slot) en Bolla Conradie (skrumskakel).

“Ons drie internasionale spelers bring baie ervaring na die span, asook senior spelers soos Janro van Niekerk, Dewey Swartbooi en David Hendricks,” sê Eloff.

“Tesame met opwindende jong spelers soos Paul Viljoen, Rossouw Kruger en PJ Vermeulen, het ons ’n lekker balans tussen jeug en ervaring, en gaan ons nou net poog om die regte balans te kry.”

Eloff meen sy span het in ’n kort tydjie reeds gegroei tot ’n hegte eenheid, veral in terme van selfvertroue en fiksheid.

Loffie se filosofie is egter eenvoudig: “Ek glo spelers moet hul rugby geniet en in mekaar glo.

“Maar ek glo natuurlik ook in harde werk. Ek het nog geen atleet sien verdrink in sy eie sweet nie,” sê Eloff.

“Spelers se insette en opinies is egter ook vir my baie belangrik.”

Loffie het net die hoogste agting vir sy afrigtingspan - manne wat, volgens Eloff, in staat is om Boland Rugby tot nuwe hoogtes te snoer.

Louis Koen, Nico le Roux en Abe Davids is die hoogaangeskrewe hulp-afrigters van die Kavaliers, terwyl dr Gerhard Jordaan, as kondisionering-afrigter, baie ervaring na die span bring.

“In Hendrik Snyders het ons ook ’n bekwame spanbestuurder, wat baie administrasie-druk van my sal afhaal,” sê Eloff.

Volgens Eloff gaan hy dit ook vanjaar sy uitgangspunt maak om van plaaslike spelers in die Boland-unie gebruik te maak.

“Glo my, daar is baie rugbytalent wat in die Boland rondloop. En dit sluit nie net Premierliga-spanne in nie, maar B en C liga-spanne ook,” sê Eloff.

“Daar is ’n gesegde wat sê, lui vissermanne vang in die hawe. Ek wil poog om nie daardie visserman te wees nie.

“As ’n span gaan ons ook nie vanjaar die uitgangspunt hê dat ons wedstryde aandurf as underdogs nie, maar eerder as ons opponente se eweknieë,” sê Eloff.

“Dus is die span se slagspreuk vanjaar: Enige tyd, enige plek, enige span, geen verskonings!”

* Die Boland Kavaliers kom eerskomende Saterdag te staan teen die Westelike Provinsie in die Vodacombeker, op Bredasdorp.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za