Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dodelik met ’n yster

Dodelik met ’n yster
 
2010-02-25

Jaco van Wyk

’N KOLHOU, ’n Voëltjie en ’n Albatros oor drie gate agtereenvolgens. Dié gholfsyfers is ongelooflik!

Selfs top-spelers soos Ernie Els of Tiger Woods sal met dié syfers spog as van hul bestes in hul loopbane.

Maar die man met die akkurate ysters is geen ‘Tier’ of ‘Big Easy’ nie.

Eintlik nog lekker nat agter die ore, is die jong man met die natuurlike ‘GPS’ vir ’n setperk, niemand anders nie as die 16-jarige leerder van Hoërskool Paarl Gimnasium, Gideon van der Vyver.

“Iets ongelooflik het daardie dag gebeur,” sê Gim se nommer een gholfspeler opgewonde, oor die “fratsronde” wat hy voorverlede Maandag op Paarl Gholfbaan beleef het tydens Gim se gholfwedstryd teen Hoërskool Parelvallei.

“Ek kan dit nie regtig beskryf nie. Ek het geen verwagtinge van ’n hole-in-one of ’n Albatros (drie onder syfer op ’n syfer vyf putjie) gehad nie.

“Dit was maar ’n gewone dag van gholf, tot ek die 20ste putjie bereik het,” sê Gideon.

“Op dié 126m-lange syfer drie, het ek nog lekker geterg dat ek hom sommer met een hou gaan inslaan,” lag Gideon lekker.

“En daar slaan ek hom toe sowaar met een hou in.”

Gideon ken egter die gevoel van ’n kolhou, aangesien hy in 2006, by King David gholfklub in Kaapstad, ook ’n ‘hole-in-one’ aangeteken het.

Op die daaropvolgende 21ste gat (syfer 4), was die gevoel nog bietjie bonatuurlik. Die spel moes egter voortduur en Gideon het gereedgemaak vir ’n ‘meer-normale’ poging.

Ná ’n goeie dryfhou, het Gideon sy asem opgehou ná ’n uitstekende naderhou wat etlike sentimeters verby die gat gerol het, vir wat ’n Arend sou wees.

’n Eenvoudige sethou het egter aan Gideon ’n goeie Voëltjie besorg.

Op die 22ste gat, ’n lekker lang syfer 5, het Gideon se spanmaats, en selfs sy opponente, hom begin terg. Sy ‘droomronde’ was sekerlik nou iets van die verlede - of was dit?

“Met die wind van links het my drywer die beste getref van die dag,” sê Gideon.

“Toe het my vriend WJ van Wyk skielik stil geraak vir ’n paar sekondes, en skielik gereageer met: Iets is verseker fout hier.

“Ek was self lekker geskok, maar ons almal het lekker gelag vir WJ se opmerking. Tot ek met my tweede hou wéér die bal in die gat geslaan het.”

Volgens Gideon was die gevoel “Onbeskryflik! Ongelooflik!”

“Ek kon dit nie glo nie en al wat ek kon doen, was om op die setperk te val van blydskap,” sê Gideon.

“Die grappe was darem toe verby en almal het my begin toejuig.”

Gideon is ’n inwoner van Gim se koshuis en sy familiehuis is op Somerset-Wes.

Gideon (’n nullo-speler), speel reeds vanaf driejarige ouderdom en is tans ’n lid by Strand Gholfklub asook by Paarl Gholfklub.

Dit was juis op eersgenoemde gholfbaan waar Gideon sy langste dryfhou behaal het – ’n reuse 340 meter op die 16de putjie.

“My droom is om eendag professioneel gholf te speel. Ná skool wil ek na Amerika gaan om in ’n besigheidsrigting te gaan studeer, terwyl ek kollege-gholf speel,” sê Gideon.




More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za