Rotariërs gee hand in Haiti
2010-02-25
Johan Nel
DIE Rotariërs is deesdae indirek gemoeid by groot internasionale reddingsaksies soos die aardbewing wat Haiti onlangs getref het, sê Dave Moss van Paarl Rotariërs. Moss, wat verlede week opgetree het as spreker by die Wellingtonse Rotariërs, het die byeenkoms meegedeel dat Paarl Rotariërs tans ten nouste gemoeid is met die verspreiding van die Rotariërs se vindingryke nuwe ShelterBoxes wat in noodlenigingswerk oral in die wêreld gebruik word. Die ShelterBoxes is volgens Moss deur ’n Britse lid van die Rotariër-beweging, Tom Henderson, ontwikkel. Dit bestaan uit ’n krat wat onder meer ’n tent met slaapplek vir tien mense, watersuiweringsapparaat, waterhouers, slaapmatte en komberse, ’n stoof, kookgerei, muskietnette en noodsaaklike gereedskap soos ’n byl bevat. Duisende van hierdie kratte word in ’n skuur in Engeland gestoor om op kort kennisgewing na rampgebiede dwarsoor die wêreld uitgestuur te word. Die Paarlse Rotariërs gaan nou ook van hierdie kratte borg om na rampgebiede in Suider-Afrika uit te stuur. Onderhandelings word reeds vanuit die Paarl met noodspanne in die Wes-Kaap en elders in Suidelike Afrika gevoer om te verseker dat die ShelterBoxes blitsvinnig na moontlike rampgebiede afgevoer kan word. Binne vyf weke ná die onlangse aardbewing in Haiti het die Rotariër-beweging 10 000 ShelterBoxes by die rampgebied afgelewer. Dit het slaap- en woongeriewe aan 100 000 mense verskaf. Volgens Moss stel hierdie noodlenigingswerk die Rotariërs in staat om blitsvinnig mense wat alles in ernstige natuurrampe soos vloede of brande verloor het, van die nodige middele te voorsien om weer op menswaardige wyse met hul lewens voort te gaan.
More
News
|