Kommer oor Hugenote Kollege se akkreditasie
2010-02-25
Sieb Sieberhagen
STUDENTE van Hugenote Kollege (HK) op Wellington het verlede week die kommerwekkende nuus gehoor dat hulle akademiese toekoms by dié instelling in die weegskaal is, aangesien die Departement van Hoër Onderwys onlangs akkreditasie wat met die Universiteit van Stellenbosch (US) beoog is, afgekeur het. Studente in gemeenskapsontwikkeling is verlede week bymekaargeroep en die nuus dat hul kursus nie geakkrediteer is nie, is aan hulle meegedeel. Wat van dié studente in 2011 gaan word, is steeds nie duidelik nie. Studente vertel dat hulle totaal oorbluf was oor die nuus en dat hulle nou baie onseker is oor die toekoms. Dít, terwyl prof Jan Botha, ’n senior direkteur van US, sê dat die studente die inligtingsessie “baie goed” hanteer het. “Ons het nie hierheen gekom om met ons toekoms te dobbel nie, maar nou dobbel hulle met ons toekoms,” sê een van die studente. “Hugenote Kollege is ’n spesialiteitskampus. Ons kom nie hierheen om rond te val tussen kursusse nie, ons kom hierheen omdat daar ’n behoefte daar buite is. “Die meeste van ons besef wat in die gemeenskap aangaan. Dit is die rede waarom ons ons in die maatskaplike rigting wil bekwaam. “Baie van ons kom van die platteland af, wat Wellington ’n ideale plek maak om te kom studeer. Dit is in elke val veels te duur om in Stellenbosch te gaan studeer.” Studente is in skrywes van HK ingelig oor die moontlikheid dat sekere van die kursusse, soos die eenjarige hoër sertifikaat in Gemeenskapsontwikkelings-praktyk en die BA Graad in Gemeenskapsontwikkeling, onderhewig is aan akkreditasie deur die Hoër Onderwys Kwaliteitsraad. “Maar baie van die studente het dit nie eens raakgesien nie,” sê een student. Met nadere ondersoek het Paarl Post gesien dat daar in die korrespondensie aan eerstejaarstudente (bo-aan een van die eerste bladsye ) aangedui word dat HK die kursusse (sertifikate, voorgraads en sommige nagraadse kursusse) kragtens ’n akademiese vennootskap met Stellenbosch aanbied. Volgens die Hoër Onderwys Kwaliteitsraad (HOKR) is HK ’n private instelling wat nie as ’n openbare instelling kan onderrig gee nie. In ’n verklaring deur US word egter aangedui dat dié akkreditasie as vanselfsprekend aanvaar is. Indien die akkreditasie nie nou met onderhandeling beredder kan word nie, hang die toekoms van HK in die weegskaal. Dit sal ’n massiewe finansiële verlies vir Wellington teweegbring indien die kollege (met 800 studente) moet sluit. Prof Johan Viljoen, rektor van Hugenote Kollege, sê dit is onverantwoordelik om te spekuleer oor of dié kollege gaan sluit. “Beide HK en US is steeds verbind daartoe om die beste belang van die student na te streef, en is positief dat daar wel ’n oplossing met die departement beding kan word. “Daar is tans geen sprake dat die Kollege gaan sluit nie. Daar is inderwaarheid ander senior studente wat ook steeds onderrig ontvang en ingeskrewe nagraadse studente wat hul navorsing sal voortsit,” sê hy. “Ná die eensydige kansellering deur Unisa van die jarelange akademiese samewerkingsooreenkoms met Hugenote Kollege, is daar aanvanklik met verskeie moontlike akademiese vennote gesprek gevoer. “Hierdie proses is afgesluit nadat die destydse Kollegeraad besluit het ten gunste van US as die voorkeurvennoot. “Daar is reeds op ’n ooreengekome uitfaseringsplan vir alle Unisa kwalifikasies besluit, wat reeds met studente bespreek is en tans geoperasionaliseer word,” sê hy. Ranjeni Munusamy, woordvoerder van die Departement Hoër Onderwys en Opleiding, sê dat sy departement nie verantwoordelik is vir die akkreditasie van leerprogramme nie. Dit is die verantwoordelikheid van die Hoër Onderwys Kwaliteitsraad (HOKR). “Die HOKR het die US geadviseer om met hulle te onderhandel omdat daar tans geen raamwerk bestaan om vennootskappe tussen publieke en private hoër opvoedingsinstellinge te bewerkstellig nie. “Volgens wetgewing moet die kollege by die Departement vir Hoër Onderwys registreer. Dit het nog nie gebeur nie,” sê hy.
More
News
|