In sak en as oor Kingfin
2010-02-25
Lise Beyers
TWEE jaar gelede was alles sonskyn en rose vir Theo en Hester Leonhardt. Daar was die vooruitsig van ’n aftrede by die see met ’n gevestigde neseier wat vir hulle ’n kommerlose aftrede sou voorsien het. Maar alles het in ’n oogwink verander toe hul skip sien sink het, met die ineenstorting van die Wellingtonse beleggingsmaatskappy King Finansiële Dienste. Met hierdie ineenstorting is hul lewenslange beleggings in die vorm van drie huise en verskeie polisse, met ’n totale waarde van bykans R7,5 miljoen, daarmee heen. En hulle is van voor af in skuld gedompel. En nie net het húlle deurgeloop nie, maar weens die belowende vooruitsigte van vinnig geld maak op beleggings, soos wat deur Kingfin belowe is, het hulle ander familielede oorreed om geld in dié onderneming te belê - tot hul groot spyt. En net toe die Leonhardts gedink het dat dinge nie erger kan raak nie, is Theo onlangs met ’n kwaadaardige breingewas gediagnoseer. “Theo het begin siek voel, maar die dokter het gedink dat dit weens stres is oor die King-debakel. Dit het egter al hoe erger geraak en hy is ná verdere mediese toetse met breinkanker gediagnoseer.” Hy is so swak dat hy nie sy dogter se troue kon bywoon nie. Die Leonhardts se probleme het meer as twee jaar gelede begin, toe Theo, op die ouderdom van 60, begin dink het aan aftree. In daardie stadium het hulle drie afbetaalde wonings in Wellington, polisse en beleggings op die geldmark gehad. “Maar daar word aanmekaar berig dat min pensionarisse genoeg geld het om mee af te tree, dus het ons raad gaan soek by die Kings.” En met die intreeslag by hierdie beleggingsmaatskappy se kantore in Malherbestraat, meen die Leonhardts dat hulle die grootste fout van hul lewens begaan het. “Nadat hulle na ons bates gekyk het, het ’n agente met ’n voorlegging vorendag gekom. “Sy stel toe voor dat ons baie meer geld uit ons wonings kan maak as net huurgeld, en oorreed ons om tweede verbande op die eiendomme te bekom. Hierdie lenings is gebruik om by Kingfin te belê, met die belofte van opbrengste van 30% per jaar. “Op daardie stadium het ons wel gesien dat die beleggings groei, en ons is toe oorreed om in eiendom in Port Elizabeth te belê. Natuurlik was dit ook by Kingfin se ontwikkelings. “Hiervoor moes ons 100% verbande uitneem, maar ons is beloof dat ons vinnig ons lenings sou terugbetaal.” Toe King Finansiële Dienste besef dat hulle in die moeilikheid raak, het hulle ongenoteerde aandele aan hul beleggers begin verkwansel. Nou sit die Leonhardts met reuse-skuld. Hul huise in Port Elizabeth is uit nood op veilings verkoop, maar die verkoopprys het nie die verbande gedek nie en hulle skuld steeds vir die bank hiervoor geld. “Ons is nou agterstallig met hierdie betalings, want ons betaal reeds duisende rande ’n maand op ons wonings in Wellington af. Dit is ’n skaakmat-situasie.” Theo werk steeds vir ’n ingenieursfirma in Wellington, maar sy siekte gaan tien teen een nou die einde van sy loopbaan beteken, en so ook sy broodnodige salaris. En boonop staar groot mediese kostes hom nou in die gesig. Enigiemand wat daarin belang stel om by te dra tot ’n fonds wat gestig is om te help met Theo se mediese kostes, kan so doen by Nedbank, onder die rekeningnaam, Hilda van Rooyen (rekeningnommer 1029 041776, taknommer 102905). * ’n Salarisbewys wat in die besit van Paarl Post is, toon dat een van Kingfin se agente, Alida Nel, se netto-salaris vir een maand meer as R700 000 beloop het. * A Wellington man who lost his life’s savings due to investments with Kings Financial Services, has now been dealt another blow, when he was diagnosed with a malignant brain tumor.
More
News
|