Tamatiedraai weer ’n treffer
2010-03-04
Johan Nel
ALTA MEYNHARDT, haar man en hul bure in Hoofstraat, Wellington, het verlede Woensdagaand amper-amper vir die tweede keer in minder as ’n jaar geglo ’n tamaai aardskudding is besig om hul dorp met Haiti-geweld aan flarde te ruk. Dit het kompleet soos ’n aardbewing geklink nadat ’n motor vir die hoeveelste keer die ou melkery-gebou in Hoofstraat se veranda en die Meynhardts se huis getref het. “Die motor het by Tamatiedraai die pad teen ’n hoë spoed verlaat, op die stoep van die ou melkery gespring en die verandapilare soos vuurhoutjies afgeruk. “Net toe die veranda bulderend inmekaar stort, het die motor die stoepmuurtjie van die huis getref, ’n pilaar uit die aarde gejaag en met ’n oorverdowende slag teen ’n tweede stoepmuurtjie tot stilstand gekom.” Alta Meynhardt sê sy kan nie eens meer onthou of sy vir verlede Woensdagnag se lawaai geskrik het nie. As jy so lank soos wat sy en haar gesin langs Hoofstraat in Wellington woon, dan skrik jy nie meer vir motortjies wat damme dik swart olie op jou voorstoep kom uitskiet nie. “Verlede jaar, op 12 Maart, het ’n motor ook die veranda van die ou melkery inmekaar laat tuimel en sy olie op ons voorstoep kom uitmors. “Laas Woensdagaand se ongeluk is die tweede ongeluk op ons voorstoep in minder as ’n jaar, maar onthou, ons beleef amper elke week liederlike ongelukke hier voor ons huis,” vertel Alta. Onlangs was daar drie groot ongelukke in een nag naby hul huis in Hoofstraat. Eers het ’n bestuurder beheer oor sy motor verloor toe hy om Tamatiedraai gejaag, oor die middelman in die straat gerol en voor aankomende verkeer beland het. ’n Rukkie later het iemand in die teenoorgestelde rigting gejaag, oor die middelmannetjie geskiet en die huis laer af in die straat se tuinmuurtjie getref. En ’n rukkie later was daar ’n tromp-op botsing. Volgens die Meynhardts sal daar nou dringend ’n plan gemaak moet word om motoriste te dwing om stadiger in Hoofstraat te ry. ’n Robot sal volgens hulle nie help nie. Spoedwalle is waarskynlik die enigste oplossing. “As hulle die spoedwalle ignoreer sal die afgebreekte vere van hul motors hul wel maan om rustiger in Hoofstraat te ry.” Die bestuurder van die motor wat verlede Woensdagaand die huis van die Meynhardts getref het, is volgens omstanders deur die polisie op aanklag van dronkbestuur weggeneem. Twee motors het na bewering kort voor die ongeluk vanaf ’n restaurant onder in Hoofstraat weggetrek en straat-op resies gejaag. Een van die motors het by Tamatiedraai die pad verlaat en die verandas langs die straat getref.
More
News
|