Seun red diere uit vlamme
2010-03-04
Lise Beyers
’n DERTIENJARIGE seun het verlede week sy troeteldiere gered van ’n gewisse dood, toe sy ouerhuis aan die brand geslaan het. Jason Binedell van New Eskdalestraat, De Zoete Inval, was verlede Donderdagmiddag alleen tuis toe hy rook geruik het. Toe Jason rook uit die dak sien kom, was sy eerste gedagte egter om sy diere na veiligheid te bring. Eerstens het hy probeer om sy geliefde papegaai, Max, se hok uit die kombuis te dra, maar teen dié tyd het die hitte van die brand die hok onhanteerbaar gemaak. Hy het vinnig gedink, sy ma se oond-handskoene gegryp en vir Max buitentoe geneem. Gelukkig het twee van die familie se honde, die worsie Leila en wolfhond Shiba, reeds uit die huis ontsnap, maar hul Jack Russell, Buksie, was nêrens te siene nie. Justin is die rookgevulde huis weer binne en het die hondjie opgespoor onder ’n bed waar hy geskuil het. Hy is skaars met die hond uit die huis uit, toe die hele dak van die woning in ’n vlammehel ontaard het. Hy is met die troeteldiere na die bure en het sy pa gebel, wat skaars tien minute voor die ramp vinnig winkel toe is. “Ek is soos blits weer huis toe, en het daar aangekom nog voor die brandweer se aankoms,” vertel Simon Binedell. “Vriende Tommy Engela en Rudi Pretorius was vinnig byderhand en ons het probeer blus waar ons kon met tuinslange en emmers. “As dit nie vir hul hulp was nie, sou ons sekerlik nog baie meer skade gehad het.” Die brand het oënskynlik weens ’n elektriese kortsluiting in die dak begin. Bykans die hele dak is uitgebrand, die kombuis is vernietig, en die res van die huis en meubels het geweldige rook- en waterskade opgedoen. Die beraamde skade beloop derduisende rande. Simon bly nou in ’n woonwa in die oprit om die perseel te beveilig, terwyl sy vrou Sjané en dogter Monique, by sy skoonma bly, en Jason moes koshuis toe gaan. “Dit gaan nog baie lank neem voordat ons lewens na normaal terugkeer.” Maar skaars het die rook van die brand gaan lê, of die Binedells is oorval deur talle barmhartige Samaritane wat vir hulle skenkings gebring het om hulle by te staan in hierdie moeilike tyd. “Dit is werklik ongelooflik. Selfs vreemdelinge het hier aangekom om ondersteuning te bied. Hiervoor is ons baie dankbaar.” * A young boy saved his pets from his burning family home in De Zoete Inval, Paarl South.
More
News
|