Drakenstein Edu wen liga-titel
2010-03-04
DRAKENSTEIN EDU se eerste krieketspan het Saterdag geseëvier in hul liga. Nou mik dié span om eerskomende Saterdag die seisoen onoorwonne af te sluit, wanneer hulle in ’n wegwedstryd te staan kom teen Oostelikes. Drakenstein het die pas-afgelope Saterdag maklik klaargespeel met Bergrivier II, om die liga-titel te verower. Ná Bergrivier se manne almal reeds in die 27ste boulbeurt uitgehaal is vir 157 lopies, het dit vir Edu se kolwers slegs 25 boulbeurte geverg om die wenlopies, met ses paaltjies staande, te moker. Drakenstein se beste kolwer was Dane Schoor (47 lopies), met Ricky Matthee (3/13) wat geskitter het met die bal. Edu se tweede span het egter Saterdag vasgeval teen Spes Bona III. Alfonso Mosenthal (3/25 en 33 lopies) het goed vertoon met kolf en bal, terwyl Ryan Carolissen (32) en Nathan Hendricks (24*) hom goed ondersteun het. Spes Bona het met 20 lopies geseëvier.
More
News
|