HJS en HMS wen, maar Gimmie breek rekords
2010-03-04
TERWYL Hoër Jongenskool en Hoër Meisieskool besig was om hul Hoërskool Gimnasium-eweknieë ’n swemles te gee tydens dié skole se interskole-swemgala, was die Gimmie, Werner Neitz, besig om die een rekord ná die ander te verpletter. HJS (243 punte) en HMS (245 punte) het maklik afgereken met Gim se seuns (180) en dogters (181) onderskeidelik, tydens dié byeenkoms wat Maandag by HJS se swembad aangebied is. Die top-swemmer van die dag was egter Neitz (o.16), wat altesaam 4 rekords laat spat het. Altesaam 9 individuele rekords is opgestel, met 11 aflos-rekords wat verbeter is. Neitz se rekords sluit in die o.16 50m vryslag, 50m vlinderslag, 50m rugslag en 4x25 IM. Die ander 5 individuele rekords is opgestel deur Helene Swanepoel (Gim; dogters o.14 50m vlinderslag en 50m borsslag); Stefan Viljoen (HJS; seuns o.16 50m borsslag), Jana Pretorius (HMS; dogters o.16 50m rugslag) en Lisa Kirsten (HMS; dogters 0.16 50m rugslag).
More
News
|