Opknapping voel soos ’n miljoen rand
2010-03-04
Lise Beyers
DIT was ’n eenkeer-in-’n-leeftyd-ervaring.” So vertel Amanda van Wyk van Noorder-Paarl, nadat ’n vertrek in haar huis teen ’n koste van R100 000 opgeknap is. En die enigste koste wat sy hiervoor moes dra, was ’n SMS van R3. Verlede jaar het Amanda die kompetisie in ’n binneversieringstydskrif raakgesien, waar een gelukkige leser ’n vernuwing ter waarde van R100 000 vir een vertrek in hul huis kon wen. Bykans R50 000 van die wen-prys sou bestee word aan dekor en meubels, terwyl die res van die geld die kostes van die wêreldbekende Amerikaanse binnehuisversierder, Mark Brunetz, sou dek. “Ek het die laaste dag van die kompetisie ’n SMS gestuur, en reeds teen die Sondag is ek in kennis gestel dat ek ’n finalis is, en kort daarna het Mark persoonlik vir my gebel om vir my te sê dat ek as wenner aangewys is. “Ek en my man, Johann, het besluit dat ons ons braaikamer wil laat opknap, want dit is ’n vertrek wat ons baie gebruik.” Brunetz is spesiaal van Amerika af gevlieg om met Amanda te konsulteer oor die beoogde opknapping van die braaikamer, en kort hierna is daar aan die werk gespring. Nuwe kaste is ingebou, die ou teëls op die vloer is gelig en vervang met ’n spoggerige gelamineerde houtvloer, mure is geverf en nuwe ligte is aangebring. Hierna is al Amanda se ou meubels met splinternuwe, moderne meubels vervang, asook ’n televisiestel. Nou voel die Van Wyks byna soos miljoenêrs met hul spoggerige braaikamer. “Die enigste nadeel,” vertel Amanda, “is dat ek nou my hele huis wil laat opknap.” Maar dit is glo nie te groot ’n probleem nie, want manlief Johann is glo heel bereid om hiermee hand by te sit. * A local couple are in their element after winning a make-over of R100 000 for a room in their home.
More
News
|