DIE laaste sterrekyk-aand vir die seisoen vind op Saterdag 13 Maart by die Taalmonument op Paarlberg plaas. Gaste sal van 20:00 tot 23:00 deur teleskope na bekende konstellasies en planete kan kyk onder leiding van lede van OOG (die Orion Observasie Groep), ’n informele sterrekunde-klub van die Boland. Die fokus van die aand is Saturnus en sy ringe.
Die aand skop af met ’n piekniek vanaf 18:00. Besoekers kan hulle eie piekniekmandjie saambring of een bestel by Volksmond Koffiewinkel (021-863-2800 of e-pos volksmond@taalmonument.co.za).
Toegang is R20 (R10 vir kinders). Bespreek by 021-872-3441 of 082-729-2716 (ook vir weernavrae). Gaste word aangemoedig om verkykers saam te bring. Geen honde of vure word toegelaat nie. Daar sal veilige parkering en toegangsbeheer by die hek wees. Vir meer inligting oor geleenthede by die Taalmuseum of Taalmonument, skakel 021-872-3441. Geen sterrekykaand sal plaasvind indien die weer sleg is nie.