Verskeie hoogtepunte tydens Agri Cape Week
2010-03-11
DIE Agri Cape Week, wat vanaf 15 tot 17 April by Hoër Landbouskool Boland in Agter-Paarl aangebied word, fokus spesifiek op die vrugte-, wyn-, en groentebedrywe in die Wes-Kaap. Verskeie aktiwiteite word weer vir hierdie geleentheid beplan, insluitende werkwinkels en inligtingsessies vir die onderskeie bedrywe, asook kompetisies, skolebetrokkenheid en vermaak. Een van die hoogtepunte op die program wat goeie waarde sal toevoeg, is ’n Agritoerisme-werkwinkel met die bekende Peter Myles, ’n toerismespesialis as hoofspreker. Die werkwinkel sal spesifiek fokus op plaaseienaars wat die potensiaal van landbougerigte toerisme-aktiwiteite soos self-sorgeenhede, 4x4- en staproetes in die Wes-Kaap wil ontgin en plaaseienaars word juis aangemoedig om bestaande hulpbronne, soos leë plaashuise, te omskep in ’n bron van inkomste. Volgens Myles het ’n opname deur SA Toerisme onlangs bevestig dat 70% van internasionale toeriste Suid-Afrika besoek vir sy buitelewe-toerisme. “Slegs 7% van oorsese besoekers en sowat 2% plaaslike toeriste maak egter gebruik van plaasakkommodasie wanneer hulle in Suid-Afrika toer. Indien die potensiaal ontgin word om agri-toerisme in Suid-Afrika te bemark, organiseer en te stimuleer, sal dit ’n merkwaardige markgeleentheid bied.” Nog ’n hoogtepunt op die program is ’n Nasionale Olyfkonferensie met internasionale sprekers van Italië en Spanje asook plaaslike spesialiste in die olyf-industrie, soos Carlo Costa van die LNR. Die konferensie sal oor twee dae geskied (15-16 April). Onderwerpe wat bespreek sal word, sluit in kultivars vir Suid-Afrika, olyfekstraksie, ’n nadere blik op insekteplae en biologiese pesbeheer. Daar sal uitstallings wees van produkte en dienste. ’n Omvattende damesprogram sal vir goeie vermaak en heerlike bederf vir die dames sorg. Op dié spyskaart is daar onder andere ’n Vroue-oggend in samewerking met Tuis-tydskrif op Donderdag 15 April met tuindekor as tema. Tuindekor-spesialis Mabel Steenkamp van die Paarl sal kreatiewe tuindekor-idees deel. Die koste beloop R200 en sluit ’n laat-ontbyt in. Bespreek by Elma Brand van Mega Events by 021-863- 0397 of events@agrimega.co.za. Plaaswerkervroue gaan ook tydens Agri Cape Week bederf word met ’n koek-en-tee-geleentheid, waar daar gefokus sal word op die belangrike rol wat dié dames in hul gemeenskap speel. Groot rugby word ook tydens die Agri Cape Week beplan waartydens privaatskool Bishops (Diocesan College) kragte sal meet teen die Hoër Landbouskool Boland. Daar sal ook weer ’n verskeidenheid van landbougerigte uitstallings en geleenthede vir demonstrasies van landbou-implemente wees. Vir navrae, kontak Cornea Geldenhuys by 028-424-2890 of besoek www.agrimega.co.za.
More
News
|