Dankie vir spoedwalle en middelmanne in Newton 2010-03-11
EK wil as belastingbetaler van Newton net my dank oordra aan Drakenstein Munisipaliteit vir die aanbring van spoedwalle en verkeerseilande in die oostekant van dié woongebied.
Op sekere plekke kom ek agter dat dit nie net gedoen is om afgehandel te word nie, maar ook planmatig te werk gegaan is en gekonsulteer is, om uiteindelik motorbestuurders te dwing om spoed te verminder ter wille van veiligheid in die breë.
Die afgelope sowat 40 jaar het baie ernstige verkeersinsidente al by die T-aansluiting waar ek woonagtig is, gebeur, dus is ek baie dankbaar. Dis maklik en gou word klippe gegooi, as dienslewering nie op standaard is nie, of tekortkominge voorkom.
Ek wil net onder die Munisipaliteit se aandag bring dat by die Skoolstraat T-aansluiting in Aurorastraat, motors nog steeds in beide die noord- en suid-rigting redelik maklik teen ’n onveilige hoë spoed verbyry.
Sypaadjies word ook deesdae net aan die eenkant van die straat geteer.
HW PetersenMay Carolissen, skakelbeampte van die Munisipaliteit, reageer: Indien die verkeersirkel steeds nie die gewenste uitwerking het nie, sal die verkeersafdeling versoek word om die area te patrolleer. Die Raad het besluit dat alle ongeteerde sypaadjies eers slegs aan die een kant geteer word om een geplaveide area te bied. Areas naby skole, kerke, gemeenskapsentrums en dies meer kry voorkeur. Verdere teer van sypaadjies in woonbuurte is afhanklik van die beskikbaarheid van fondse.