ELKE nou en dan lees ons van fietsryers wat deur motorvoertuie doodgery is. Telkens is dit ’n klaaglike gebeurtenis wat die koerante se voorblaaie haal.
Soos wat groot ritte soos die Argus nader kom, so neem die aantal fietsryers op die paaie toe.
Maar dikwels as ek van so iets lees, ervaar ek ’n gevoel van magtelose woede – teenoor die fietsryers wat hulle so laat doodry. Oor die hartseer wat hulle agterlaat. Oor die lewens wat hulle verwoes.
Regte ongelukke tersyde gelaat, kom ons neem dié fietsryers se gedrag in oënskou soos ek self dikwels waarneem:
* Fietsryers wat soggens omstreeks halfses in die Paarlse hoofstraat ry, sonder voorligte. Dis ’n feit dat motoriste in die donker ingestel is op die ligte van aankomende voertuie, eerder as op donker gedaantes wat skielik vanuit die niet verskyn.
* Fietsryers wat nie eens die moeite doen om met ’n agterlig in die donker te ry nie. Julle speel Russiese roulette telkens wanneer voertuie mekaar in jul nabyheid kruis.
* Fietsryers wat tydens spitstye (of enige ander tyd) op smal paaie sonder skouer ry. Watter kans het jy as ’n swaar voertuig by jou verbyry en die lugstroom ruk jou in die pad van aankomende verkeer in?
* Fietsryers wat twee of meer langs mekaar ry en sodoende dit baie moeilik of onmoontlik maak vir ’n voertuig om hulle verby te gaan sonder om na die verkeerde kant van die pad te beweeg.
* Fietsryers wat reken hulle het die reg om die gehele motorverkeer op ’n buitestedelike teerpad te forseer om hul spoed van 100 kph af te bring na 30-40 kph deurdat hulle langs mekaar ry, of paaie kies wat beswaarlik twee voertuie wat regoor mekaar verbygaan, kan hanteer.
* Fietsryers wat teen volspoed stoptekens en rooi verkeersligte en ander padtekens ignoreer.
* Fietsryers wat op smal paaie omkyk-omkyk met mede-fietsryers gesels en in die proses reg in die pad van verbygaande verkeer inswaai.
* Fietsryers wat so van die arrogansie oorloop dat hulle meen hulle kan hul teenwoordigheid laat geld teen motorvoertuie van ’n ton en meer wat teen wettige snelhede dieselfde paaie gebruik.
* Fietsryers wat van mening is dat wanneer hulle buitestedelike paaie gebruik, hulle die reg het om die ganse motorvoertuigdom te ontwrig, met die vanselfsprekende nadele wat daarmee saamgaan.
* Fietsryers wat maar net nie kan of wil verstaan dat daar sekere paaie is wat net eenvoudig nie geskik is vir fietsry nie.
As jy dan op ’n motorpad moet ry, kry liewer die georganiseerde fietsry om ritte te reël op gepaste tye op gepaste paaie. Andersins, skaf ’n bergfiets aan, laai dit op jou kar en gaan ry in die natuur.
Maar die belangrikste van alles – wees bedagsaam teenoor ander gebruikers van dieselfde roetes - voetgangers sowel as ander voertuie. (N.S. Ek is ’n fietsryer.)
Nelis Kruger