Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


’n Deurbraak vir Allandale

’n Deurbraak vir Allandale
 
2005-09-08


DIE Allandale Rugby het vanjaar geskiedenis gemaak deur vir die eerste keer in hul bestaan, na ’n hoër liga bevorder te word.

Allandale wat in 1986 gestig is het sedert eenwording in 1994 nog elke jaar in die Westelike Provinsie Rugbyunie se laagste liga, deesdae Divisie 6, gespeel.

Nie alleen het Allandale se eerstespan die ligatitel verower nie, maar hul tweede en derde spanne het ook elkeen hul onderskeie ligas gewen.

Allandale se eerstespan het heelparty spanne goed op hul herrie gegee en hulle met tellings van vyftig-plus geklop. Die grootste van dié seges was die 97-0 vernedering oor Cities Rugbyklub op
Allandale.

Dié sukses die seisoen is te danke aan die samesmelting van Allandale en Drakenstein Gevangenis se rugbyklubs.

Volgens Davey Simonse, Drakenstein se wedstrydsekretaris, het dit beslis ’n oplewing in die klub tot gevolg gehad.

“Ons het vroeg vanjaar Allandale genader om te vra of ons spelers onder hul naam kan speel,” sê Simonse.

Spelers van Drakenstein en Pollsmoor het vir die afgelope 10 jaar as WP Korrektiewe Dienste in die WP klubkompetisie gespeel.

Die groot geldelike uitgawe van vervoer tussen die twee klubs asook interne probleme tussen die twee besture, het Allandale geforseer om verlede jaar dié vennootskap te verbreek.

Saam met die nuwe samesmelting het Allandale ook ’n nuwe afrigterspan gekry.

Roman Collins (hoofafrigter), Raymond van Niekerk (hulpafrigter) en Brent Williams (tegniese adviseur) het die span behoorlik reggeruk.

“Hulle is aldrie oud-rugbyspelers en hulle weet hoe ’n speler se kop werk. Daarby gee hulle ook baie om vir die ouens,” vertel Simonse.

Van Niekerk en Collins is bewaarders by Drakenstein terwyl Williams by Allandale werk.

Die klub het ook danksy ’n suksesvolle werwingsveldtog heelwat spelers van die plaasgemeenskap gelok.

“Op dié stadium is daar vyf bewaarders wat in die eerstespan speel. Baie van ons spelers kom van plase rondom Paarl, Agter-Paarl en Wellington,” verduidelik Simonse.

Hy voeg by dat die gebrek aan vervoer vir dié spelers ’n groot probleem is, maar dat die klub sy hand in eie sak steek om hulle te help.

Benewens die rugby op die veld, is die Allandale rugbyspelers ook baie betrokke by sosio-maatskaplike projekte.

“Ons het so ses maande gelede begin om rugbyklinieke by plaasskole aan te bied,” vertel die afrigter, Roman Collins.

“Die skole kry geen aandag wat betref rugbyafrigting nie en daarom verdwyn baie van die spelers wanneer hulle hoërskool toe gaan.

“Tydens die klinieke ontwikkel en bevorder ons hul vaardighede en talent.

“As ons hulle by rugby betrokke kan kry, keer dit dat hulle by bendes, dwelms en misdaad betrokke raak,” verduidelik hy.

Roman en sy span bied ook in Oktober op die sportterrein van Drakenstein Gevangenis ’n rugbydag vir ses o.13 spannetjies aan.

“Tydens die klinieke identifiseer ons talentvolle spelers wat ons dan poog om by hoërskole in te kry wat ’n gesonde rugbyadministrasie het,” sê Collins.

Klinieke is al by Orleansvale Primêr, Windmeul Primêr, Alfons Primêr en Mbekweni gehou.

Behalwe vir rugby is Allandale Rugbyklub ook betrokke by sopkombuise wat haweloses van etes voorsien.



More News
  • Kavaliers moet momentum gebruik
  • Sewes-aksie begin reeds môre
  • Baie visse uitgetrek
  • Standards koning
  • Last shot at gun run
  • Entries open for local MTB race
  • Wedvlug-duiwe
  • Sportdagboek
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za