Gim en Boishaai stamp koppe
2010-03-11
IN ’n spannende interskole-kragmeting tussen Hoërskool Gimnasium en Hoër Jongen-skool Saterdag op die Brugstraat-sportvelde, het die Gimmies teen alle verwagtinge ’n naelskraapse oorwinning behaal. Dié oorwinning was ietwat onverwags, aangesien HJS verlede Maandag teen Gim geseëvier het in ’n 20/20-wedstryd. Saterdag se interskole-wedstryd was egter tot in die 50ste boulbeurt in die weegskaal, tot Gim se Petrie Muller (31*) die wenlopies geslaan het, met slegs 2 paaltjies en 3 balle om te spaar. HJS het ’n sterk span in die veld gestoot en stewig voor die penne gestaan om 202/9 bymekaar te skraap, met Jean Bredenkamp (52) en Pieter Stofberg (32) wat goed vertoon het. Gim was egter oorgehaal om dié wedstryd te beklink en ’n puik beurt deur Erik van der Merwe (65) het dié oorwinning verseker. * Maandag het HJS (121 lopies) en Gim (113) koppe gestamp in ’n Pro20-wedstryd, met Boishaai wat dié wedstryd gewen het. J Cilliers (25 lopies), M Kotze (23 lopies) en C Brockman (5/15) was HJS se uitblinkers in dié 8 lopie-oorwinning.
More
News
|