Beukes blits ’n goud los
2005-09-08
DIE Paarl spog met ’n nuwe węreldkampioen.
Ronél Beukes het goud verower tydens die Węreld Meesters Atletiekkampioenskappe wat dié naweek in Spanje ten einde geloop het.
Beukes wat in die 45 tot 49 jaar ouderdomsgroep deelgeneem het, het ’n goue medalje in die 400m losgeslaan.
Asof dit nie genoeg is nie, het sy ’n nuwe SA-rekord van 59,60s opgestel, en so die 30 jaar oue rekord van Ann McKenzie verbeter.
“Die kompetisie was baie, baie sterk. Hulle sę om na ’n finaal te kan deurdring is reeds ’n groot prestasie.
“Veral die atlete van Brittanje, Australië en Duitsland was moeilik om te klop,” sę Beukes wat ’n lid van die Paarl Atletiekklub en Boland Meesters Atletiekvereniging is.
Beukes het dan ook met verlede jaar se 400m węreldkampioen, Marie Kay van Australië, afgereken. Kay was tweede oor die wenstreep.
Om dié prestasie verder in perspektief te plaas, is dit beduidend om te noem dat die wentyd van die 400m meisies 19 jaar tydens vanjaar se Boland Junior Kampioenskappe 59,92s was.
Beukes het ook daartoe bygedra dat die SA-span ’n silwer en brons verower in onderskeidelik die 4x100m en die 4x400m afloswedlope.
Sy het byna daarin geslaag om ’n vierde medalje in te palm toe sy naelskraap vierde gekom het in die 200m met ’n tyd van 26,6s.
“Die feit dat ek van my beste tye vanjaar in die 100m en 200m tydens die byeenkoms behaal het, en nie onder die top drie kon eindig nie, wys hoe sterk die kompetisie was.
“Ons was veral verbaas oor die mans 70 jaar deelnemers wat die 100m in 15 sekondes afgelę het,” vertel Beukes, wat vyfde gekom het in die 100m.
Dit is die eerste keer dat sy aan die Węreld Meesters Atletiekkampioenskappe deelneem.
“Ervaring speel ’n groot rol. Die atlete wat al voorheen deelgeneem het, ken al die taktiek en strategie wat benodig word. Ek is in die 100m en 200m elke keer net op die wenstreep geklop,” voeg sy by.
'n Totaal van 6000 atlete van 91 lande het deelgeneem.
Dit is Beukes se grootste prestasie nog. Die vorige hoogtepunt in haar atletiekloopbaan was die drie goue medaljes wat sy tydens vanjaar se SA Meesterskampioenskappe in 100m, 200m en 400m verower het.
Sy sal binnekort begin voorberei met die oog op volgende jaar se węreldkampioenskappe wat in Italië sal plaasvind.
Nog ’n plaaslike atleet wat ook sukses geproe het, was die stapper Izak Nel.
Nel het in die 5km stap vir mans 45-49 jaar ’n bronsmedalje ingepalm met ’n goeie tyd van 22 minute 24 sekondes.
Ook dié prestasie kom eers tot sy reg as daar in ag geneem word dat Izak die vyfde vinnigste tyd vanjaar in Suid-Afrika gestap het op die senior top 10 ranglys.
More
News
|