Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Paul Eilers kuier by die Ou Meul

Paul Eilers kuier by die Ou Meul
 
2010-03-11


DIE produksie “Doodkry is Min” met Paul Eilers is op Saterdag 13 Maart om 20:00 by die Ou Meul-teater te sien, met ’n voorprogram deur Wihan Stemmet.

Reeds in Augustus 1994 het radioman-akteur, Paul Eilers besluit om ’n tassie vol storieboeke in te pak en die land te deurkruis om vir mense weer stories te lees.

Met ’n stem soos Paul s’n en met ’n tassie vol woorde soos net ’n Chris Barnard, PG du Plessis, Audrey Blignault of Nataniël hulle kan inspan, kan die kuier net ’n treffer wees.

As iemand wat al 40 jaar in die uitvoerende kunste agter die rug het, ken Paul die fyn kuns van met woorde speel.

Hierdie produksie se hart is nog dieselfde, maar daar het ’n paar nuwe name bygekom soos Dana Snyman, Johan Bakkes en Rita Gilfillan.

Nes destyds is die stories steeds vol pit en vonkel. Sommige is hartseer, ander laat jou lag en die meeste sorg vir ware genoegdoening.

Boeke bly mense se beste vriende. En stories voorlees, hetsy slaaptydstories vir die kroos of op jou eie iewers in die stilligheid van ’n gunsteling-leunstoel of buite in die hangmat bly steeds van die lekkerste wegbreek-oomblikke. Grootwordtye word vereenselwig met boeke uit ons kinderdae, soos Alba Bouwer se immergroen, Stories van Rivierplaas of Cor Dirks se Uile-avonture.

Soos ons dit met moedersmelk ingekry het, vergesel boeke ons tot in ons oudag steeds as beste vriende. Hopelik sal die gebruik van stories voorlees, self lees en oorvertel nooit uitsterf nie.

Kaartjies is R70 en kan bespreek word by Vicky Stemmet by 083-564-0056 of by vstemmet@gmail.com.




More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za