Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gewapende rowers tref plaas

Gewapende rowers tref plaas
 
2010-03-11

Lise Beyers

"Ek het gelê en wag dat hulle my in die kop skiet.”

So vertel ’n slagoffer van ’n gewapende roof wat Sondagmiddag op ’n plaas buite Wellington plaasgevind het.

Pearlie Berghoff, van die plaas Mooiuitsig op die Hermonpad het, Sondag omstreeks 15:15 gehoor dat iemand aan die huis se voordeur klop.

“Ek het twee mans daar sien staan wat vir my verdag gelyk het. Toe ek na die sitkamer loop, het een van die mans reeds deur die venster geklim en ’n vuurwapen op my gerig.

“Dit het amper gelyk asof hy op daardie oomblik die sneller gaan trek.”

Berghoff is deur die man beveel om op die vloer in sy slaapkamer te gaan lê en sy hande is agter sy rug vasgemaak en ’n kussing is oor sy kop gedruk.

“My hele lewe het voor my oë verbygeflits, want ek was oortuig dat hy my agter in die kop gaan skiet.”

Dit het stil geword en Berghoff was verlig toe hy die stemme van sy vrou, Johanna, en sy niggie, Bettie Hustler, gehoor het.

Hulle is ook vasgebind en beveel om op die vloer te lê.

Nadat bykans ’n halfuur verbygegaan het, het Berghoff gehoor hoe die eienaar van die plaas, Willie Hustler, wat elders in die huis was, geskree het.

Dit was toe Hustler in ’n struweling met die booswigte aangerand is met ’n vleishaak en skrams raakgeskiet is in die nek.

“Ek het toe besluit dat ek moet los kom. Ek het ’n knipmes uit my bedkassie gehaal, maar dit was te stomp om die plastieklyn te sny waarmee ek vasgebind was.

“Net toe kom Willie by die gang af. Hy was erg bebloed, maar het daarin geslaag om ons almal los te sny.

“Ons het die polisie gekontak en hulle was baie vinnig op die toneel - soveel so dat ons eers gedink het dat dit die boewe is wat terug is.”

’n Kluis is uit die muur van Hustler se kantoor verwyder, en nog ’n kluis, wat in ’n vleiskamer versteek was, is oopgebreek en ’n onbekende bedrag geld is gesteel.

Die aanvaller het hierna in ’n wagtende motor ontsnap met nog ’n man.

Maar min het hulle geweet dat hul binne enkele minute aangekeer sou word.

Die motor wat hulle gebruik het om mee te ontsnap, is ’n week gelede in Gordonsbaai gesteel.

Lede van die blitspatrollie het die gesteelde motor naby die Wellington Spoorwegstasie opgelet en ondersoek ingestel.

Een van die insittendes was besmeer met bloed en gou het die hele storie van die roof op die lappe gekom.

Die polisie was binne enkele oomblikke op die toneel.

Kontant, die kluis asook die vuurwapen wat gebruik is deur die rowers. is teruggevind.

Hustler is na Tygerberg Hospitaal geneem vir behandeling.

Aazer Patel (27) van Elsiesrivier en Philimon Makkies (23) van Atteridgeville, Pretoria, het vandeesweek in die Wellingtonse Landdroshof in verband met die aanval verskyn.

* Robbers have attacked residents of a farm outside Wellington.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za