Vars bene vir Boland
2005-09-08
DIE afrigterspan van die Boland Kavaliers hoop dat ’n paar vars bene môreaand vir hulle die knoop kan deurhak wanneer hulle die Luiperds op Potchefstroom pak.
Die Boland moes Saterdag in ’n baie fisieke Curriebeker-wedstryd op Wellington die knie buig voor die Wilde Klawer Griekwas.
Die Boland kon nie ’n enkele punt by sy vyf ligapunte voeg in die 36-20 nederlaag nie.
Die Griekwas het van die staanspoor af oorheers en die tuisspan moes net regstaan om te verdedig.
Met die oormaat gebiedsvoordeel en besit kon die Griekwas aanval op aanval loods en hoewel die Kavaliers oudergewoonte met durf verdedig het, het Griekwas uiteindelik die gapings gevind.
Die besoekers het rustyd reeds 21-8 voorgeloop en hoewel die Kavaliers beter gespeel het in die tweede helfte kon hulle nooit weer werklik in die prentjie kom nie.
Volgens Boland se spanbestuurder, Denver Pienaar, het van die spelers reeds ’n paar harde wedstryde agter die rug.
“Ons het besluit om heelwat veranderinge aan die span aan te bring deels weens ons rotasiestelsel en andersins om van die spelers ’n ruskans te gee,” het Pienaar gesê.
In die agterlyn vervang Kobus Meintjies (Wellington Rugbyklub) vir Jacques Badenhorst op binnesenter, terwyl die skrumskakel, Niel Papier, weer ’n kans kry om te wys wat hy agter die Kavaliers-pak kan uitrig.
Blom sal sy plek op die plaasvervangerbank inneem terwyl Badenhorst ’n welverdiende blaaskans sal geniet.
Drie verandering is onder die voorspelers aangebring.
Kobus le Roux, die rateltaai flank wat tot dusver een van die span se groot uitblinkers was, kry ook ’n afnaweek. Chris Potgieter sal hom vervang.
David de Villiers sal môreaand die afskop van die reserwebank af dophou terwyl Piet Myburgh sy posisie op slot sal volstaan.
Jaco Engels sal die groot beer, Fabian Brandt, op loskopstut vervang.
Beide die spelers en afrigters sal môreaand met groot afwagting kyk hoe Henley du Plessis vaar.
Dié agsteman wat veral ’n doring van ’n verdediger is, het die afgelope twee maande met ’n knie- en enkelbesering gesukkel.
Hy oefen al die afgelope ruk saam met die span, maar die afrigter, Hawies Fourie, sal hom nie te vinnig wil druk nie.
“Ons wil hom weer geleidelik wedstrydfiks maak en kyk hoe hy vorder,” sê Pienaar.
Die losskakel/heelagter Patrick Pietersen maak ook sy terugkeer tot die reserwebank, waar hy vir Du Plessis, Blom, De Villiers, Renfred Dazel, Pieter Wium en Fabian Brandt geselskap sal hou.
Die Luiperds het nog geen sege in die Top Agt fase van die Curriebeker-kompetisie behaal nie, en sal dus behoorlik hul lippe vir die Kavaliers aflek.
“Ons glo hulle sal om dié rede met alles kom en dus is dit ’n goeie idee om ’n paar vars bene in die span in te sluit,” sê Pienaar.
* Die Nasionale Klubrugbykampioenskappe begin Sondag op Stellenbosch en die Wellington Rugbyklub, wat die Boland verteenwoordig, sal hoop om hier sy merk te maak.
Die Wellington-manne kom Sondag in hul eerste wedstryd om 14:30 op Coetzenburg se B-veld teen Nelspruit te staan.
Die wenner van dié wedstryd sal Dinsdag om 14:30 teen die wenner van die Shimlas/Buffalo rugbyklubwedstryd te staan kom, terwyl die verloorders om 13:00 teen mekaar sal kragte meet.
More
News
|