Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Trane by brand-ondersoek

Trane by brand-ondersoek
 
2010-03-11

Sieb Sieberhagen

FRANS! ek weet nie wat gebeur het nie!”

Dít was van die laaste woorde wat Sharon Adonis, kantien mede-eienaar en een van die slagoffers van die Paarl Print brand, op die dag van die brand geuiter het.

Só getuig Frans van Wyk, een van die eerste mense op die toneel van die brand wat op 17 April verlede jaar net ná 08:00 uitgebreek het en 13 slagoffers geëis het.

“Sharon het buite die kantien vir my geskreeu dat sy nie weet wat gebeur het nie. Ek het toe ’n brandblusser gegryp en in die rigting van die kantien gehardloop. Ek kon reeds die vlamme aan die agterkant van die kantien sien,” sê hy.

Vrae oor of dit wel die olie-braaier in die kantien was wat die brand veroorsaak het (en wie die braaier aangeskakel het) en of daar wel ’n brandalarm afgegaan het, bly nog steeds onbeantwoord.

Die toestand van die brandblussers en die watertoevoer in die brandslange is ook in die departement van arbeid se ondersoek onder die vergrootglas geplaas. Verskeie getuies het gesê dat die brandblussers en die brandslange nie gewerk het nie.

Party van die getuies het ’n alarm gehoor, terwyl die meeste werkers wat getuig het, dit nie gehoor het nie. Baie het ook getuig dat hulle nog nooit aan enige brandontruimingsoefeninge deelgeneem het nie.

Die departement van arbeid is tans by die Bolandpark Krieketstadion besig met dié openbare ondersoek wat tot môre sal duur.

Intussen word berig dat die Paarl Media-maatskappy reeds voor die openbare verhoor met sy versekeraar geskik het. Niemand weet hoeveel geld uitbetaal is vir die skade wat gely is nie.

Kim Yates van Hexagon Fire Investigations het verlede week getuig dat die brand na alle waarskynlikheid by die oliebraaier in die kombuis ontstaan het.

Doreen Joubert, een van die eienaars van die kantien, sê dat sy elke oggend net ná 09:00 die braaier aangeskakel het sodat sy en haar dogter, Sharon Adonis (mede-eienaar), die skyfies kon begin voorberei.

“Daardie oggend het ek nie saam met Sharon werk toe gegaan nie omdat ek aartappels en broodjies moes gaan koop. Ek sou betyds terug wees vir die 10:00 breek.

“Sharon het nooit die oliebraaier se voorbereiding gedoen nie. Dit was my werk. Sy het ander take gehad. Ek het ook persoonlik Donderdagmiddag die braaier skoongemaak en die muurprop uitgetrek.

“Ons het nooit aan die temperatuur van die braaier gestel nie,” het sy aan Richard Spoor, Ceppwawu se regsverteenwoordiger, gesê.

Sy het ook getuig dat sy nie die vorige aand gewerk het nie: “Sharon het wel gewerk, maar ons maak niks in die aande gaar nie, Daar was nie aartappels om skyfies mee te maak nie. Ek het dit die oggend gaan koop.”

Shaun Adonis, seun van Sharon Adonis, het getuig dat hulle ongeveer 07:30 by die werk aangekom het. nadat hul motor sonder brandstof gaan staan het.

“Nadat my ma haar handsak op die tafel gesit het en ek die pot op die tafel gesit het, het ons weer geloop. Die oliebraaier was skoon en dit was by die muur uitgeprop.

“Ons was omtrent vyf minute daar, toe het my ma in een rigting gestap om die koerante te gaan haal en ek in ’n ander rigting,” sê hy.

* Die grootbaas van Paarl Media, Lambert Retief (voorsitter), was Dinsdag in die spervuur tydens die publieke ondersoek na die Paarl Print brand deur die Departement Arbeid.

Hy moes vrae beantwoord oor die veiligheid van die fabriek, beweerde afwykings van die bouplanne, die afwesigheid van ’n besproeiingstelsel en die feit dat die brandalarm nie gehoor is nie.

Volgens Retief is daar aanvanklik aanbeveel dat die gebou as hoërisiko geklassifiseer moes wees en ’n sprinkelstelsel moes hê om brand te bestry, maar die fasiliteit se risikograad is verlaag nadat hy met die brandweer onderhandel het en die produksieproses verduidelik het.

Hy het getuig die brandweer het vroeër’n uur lank gesukkel om saamgesperste papier met ’n brandvlam aan die brand te steek en dat ’n sproeierstelsel met ’n vals alarm groot skade aan die papierprodukte sou aanrig.

Volgens Retief het die maatskappy, met die konstruksie van die binderygebou, gesteun op die raad van deskundiges soos ingenieurs en argitekte.

Op Spoor se aantyging dat die ondersoek na die brand nie baie deeglik of krities was nie, het Retief aangedui dat hy baie tevrede is met die ondersoek.

”Ons het niks om weg te steek nie. Ons probeer glad nie ons spore doodvee nie.”

Dawid de Villiers, strukturele ingenieur en vennoot van Nortjé en De Villiers Ingenieurs, het Dinsdag tydens kruisverhoor erken dat die bemarkingsbrosjure wat bekom is voordat die Kulite-isolasie in die dak geïnstalleer is, misleiend was omdat dit aangedui het dit is brandvas en geen vlambare gasse afskei nie - “dit was nie net misleidend nie, maar verkeerd”.

* A public hearing on the Paarl Print fire is being conducted by the Department of Labour.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za