Paarl-Oos trap Wellington
2010-03-11
DIE span van GMT Paarl-Oos het die afgelope naweek twee keer afgereken met die sterk span van Wellington op die New Orleans krieketvelde - Saterdag in die 45 boulbeurt-kompetisie en Sondag in die 20/20-reeks. Tydens Saterdag se vierpaaltjie-oorwinning deur die tuisspan, kon die besoekende Wellington Krieketklub slegs 135 lopies aanteken voor al hul paaltjies platgetrek is. Waylin September (4/20) en Zynodien Fredericks (3/22) was dodelik met die bal vir Paarl-Oos. Die tuisspan se kolwers het gereageer met 136/6, te danke aan goeie kolfwerk deur Kurt Julies (48; 7x4) en Morné de Vries (25; 2x4 en 1x6). Sondag, in snikhete toestande, was Paarl-Oos weer op sy pos met ’n sewepaaltjie-sege oor Wellington, in die 20/20-reeks. Wellington (117/5) het eerste gekolf, maar met Paarl-Oos (118/3) se Julies (50*, 4x4 en 2x6) weer eens indrukwekkend met die kolf, kon laasgenoemde seëvier. Wayne Minnies (2/14) en Dale Watts (2/22) was die wenspan se beste boulers. Wellington se tweede span (136/10) het bietjie wraak geneem oor Paarl-Oos II (121/8) in dié twee spanne se 20/20 kragmeting. Eerskomende Saterdag speel Paarl-Oos I en II teen Paarl I en II te New Orleans en Paarl-Oos III teen Mbekweni I te Mbekweni. Sondag speel Paarl-Oos I en II teen Worcester United I en II (weg). Paarl-Oos hou Saterdag 18:00 ’n disko by die klubhuis.
More
News
|