Nuwe roetes vir Tour de Boland
2010-03-11
DIE gewilde Tour de Boland fietstoer, wat gister weggespring het by die Florida Padstal in Wellington, beloof om weer eens vir groot opwinding te sorg in die Paarl/Wellington omgewing. Dié fietstoer, wat oop is vir alle junior-, o.23-, elite- en veteraanfietsryers, spring vandag en môre weer by die Florida Padstal weg (om 09:00) en sal Saterdag afsluit in Suider-Paarl, met die begin- en eindpunt by die Taalmonument. Organiseerders het vanjaar besluit om die tradisionele heuwelklim-tydtoets, wat altyd die eerste skof van dié fietstoer was, te vervang met ’n skof-padwedren. Fietsryers sal dus die gesogte titel oor vier dae jaag, wat beteken dat die algehele wenner moontlik eers op die laaste dag van die toer bepaal sal word. Nadat ryers gister die Lady Loch sirkelroete 11 keer moes voltooi (143 km), vertrek vandag se skof (skof 2) weer eens vanaf Florida Padstal by die R44/R45 (Malmesburypad) kruising en moet ryers die Paardeberg sirkel vier keer voltooi (132 km). Vrydag, met die wegspring weer eens by die kruising, sal die ryers ’n sirkelroete van 4,5 km twintig keer moet voltooi (90 km) vir wat een van die aanskoulikste skofte gaan wees. Saterdag sal die ryers om 09:00 vanaf die Taalmonument in die Paarl vertrek vir die laaste skof (skof 4) van die Tour de Boland. Die vierde skof is ongeveer 138 km lank. Ryers sal in die rigting van Klapmuts ry en regs draai op die Suid-Agter-Paarl pad verby Fairview, regs op die R44 in die rigting van Wellington en by die Voor-Paardeberg aansluiting regs vanaf die R44 in die rigting van Paarl. Ryers sal dan ’n sirkelroete, wat die R45 pad insluit, agt keer voltooi. Ná die agste ronde sal die ryers terugkeer na die Taalmonument via die R44 pad. Die vierde en laaste skof sal voor die hekke van die Taalmonument op Paarlberg eindig. * Die Tour de Boland word ten volle ondersteun deur die Drakenstein Verkeersdepartement. Motoriste word dus gevra om geduld aan die dag te lê en om op die uitkyk te wees vir die Tour de Boland fietsryers. Vir meer inligting, kontak Ian Goetham by 083-949-4501 of Hendrik Lemmer by 083-771-1143.
More
News
|