Onmin oor gemeentes saamsmelt
2010-03-25
Anne Kruger
DAAR heers heelwat ontevredenheid in twee gemeentes van die NG Kerk in die Paarl oor hul beoogde samesmelting, maar die koeël is blykbaar deur die kerk. Die Drakenstein-gemeente (in Denneburg) sukkel al verskeie jare met sy finansies weens dalende lidmaatgetalle. Dit word toegeskryf aan die veranderende demografie van die woonbuurt. Dié gemeente het ’n paar jaar gelede reeds die moontlikheid van samesmelting met, of samewerking met ander Paarlse gemeentes begin ondersoek. Toe die Strooidakkerk (die oudste gemeente in die Paarl) in 2008 genader is, is ’n ontvanklike oor gevind, en die kerkrade het saam begin vergader om ’n ooreenkoms te beding. Die vraag was: moet saamgesmelt word om ’n nuwe gemeente te vorm, met ’n nuwe naam, of moet daar net ’n samewerkingsooreenkoms wees. Die dagbesture van die gemeentes het aanbeveel dat samesmelting die beste oplossing is - maar hiervoor is baie lidmate van albei gemeentes nie te vinde nie, omdat hulle gekant is teen ’n naamsverandering en die verlies aan identiteit. Lidmate is in Desember uitgenooi om deel te neem aan ’n meningspeiling, waartydens die oorgrote meerderheid (85% by Strooidak en 80% by Drakenstein) wel ten gunste van samesmelting gestem het. Maar tans word stemming gemaak teen hierdie uitslag, omdat die stempersentasie so laag was (36% van Strooidak se 1342 lidmate, en 33% van Drakenstein se sowat 700 lidmate). Een van die beswaarmakers, Pieter Kilian (voormalige administratiewe bestuurder van Strooidakkerk), het nou ’n veldtog begin waardeur beswaardes hul teenkanting te kenne kan gee met ’n petisie. Kilian meen die kerkraad het nie die lidmate genoegsaam geken in die verloop van die onderhandelinge nie, en dat samesmelting boonop as ’n voldonge feit voorgehou is. Hy meen die besluit is deur die kerkraad op ’n outokratiese, ondeursigtige wyse afgedwing met “konsensus-metodiek” en dat die stemming afgejaag is kort voor die Desembervakansie. “Die verskillende opsies van samesmelting teenoor samewerking is nooit duidelik aan ons lidmate uitgespel nie. Geen spesiale reëlings is getref om stembriewe by alle lidmate te besorg nie.” Kilian meen kerkorde-voorskrifte is nie deurgaans gevolg nie: “Individue is na willekeur deur spanlede na die vergadering genooi en ‘aangestel’ - demokrasie het geen rol gespeel nie. “Ontbinding is nooit as ’n opsie aan die gemeente genoem nie. Die lidmate weet nie wat samesmelting beteken en wat die gevolge daarvan sou wees nie. Hulle het dus in totale onkunde daaroor gestem. “Veel sagter opsies kon oorweeg geword het. Die voordele van samesmelting is duister - om roereier te maak is redelik maklik, maar om dit agterna te skei is onmoontlik. “Die toekomstige samesmelting van bates (geboue, persele, fondse, personeel, inkomste en uitgawes) kan tot dispute lei.” Volgens Kilian is die ontevredenes se klagtes deur die Ring eenvoudig terugverwys na die kerkraad, en meen hy die Sinode moet nou ingryp. Die kwessie word verder beduiwel deur die verskillende preekstyle by Strooidak. Daar is die afgelope paar jaar ’n vroegoggend informele diens met orkesbegeleiding, gevolg deur ’n “klassieke” diens wat deur ouer lidmate verkies word. Van die ouer lidmate meen die “informele” styl, gesteun deur jonger lidmate, begin die oorhand kry en dat hulle nie meer welkom is nie. Daar word beoog om ná samesmelting informele dienste te sentreer in die kerkgebou in Denneburg, wat moontlik as “Drakenstein Gemeenskapskerk” bekend sal staan, om meer lidmate, veral jongmense, te lok. ’n Lidmaat van die Drakenstein-gemeente het aangedui dat verskeie lidmate van dié gemeente ook nie gediend is met samesmelting nie. “Die finansiële probleme van hierdie gemeente is eintlik opgelos vandat een van ons twee leraars afgetree het. “Baie mense, veral ouer lidmate (wat die finansiële ruggraat van die gemeente is) voel dat die besluit oorhaastig geneem is. “Miskien sal die onmin besweer kan word deur die stemproses te herhaal.” Die voorsitter van Strooidak-gemeente, Johan Nortjé, meen egter daar is korrek opgetree volgens die voorgeskrewe kerkorde. “Ons wil graag innoveer, want alle NG-gemeentes se getalle daal. Die twee kerkrade het die afgelope jaar herhaaldelik saam vergader oor hierdie kwessie, en kommissievoorsitters en ander ampsdraers is betrek by strategiese sessies. “Verskeie taakspanne is gestig om verslag te doen oor die implikasies van samesmelting teenoor samewerking. Gereelde terugvoer is gegee by eredienste en in die gemeentebulletin. “Die kerkrade was oorweldigend van mening dat samesmelting wensliker is as ’n bedeling waar daar ’n wen/verloor-kompromie tussen die twee gemeentes is. “Daar was in die kerkraad slegs twee teenstemme by Drakenstein, en nege teenstemme by Strooidak. Ons het dit beskou as ’n mandaat om voort te gaan met onderhandelings. Daar is bevind dat daar wel risiko’s is by samesmelting, maar min nadele. Finansieel is daar skaalvoordele met ’n groter gemeente, solank alle bates en laste vooraf uitgesorteer is. “Hoewel almal vermoedelik nie deur hul kerkraadslede die stembriefie ontvang het nie, is die stemming in die kerkdienste aangekondig. Mense kon na die kerkkantoor gaan om te stem, en die stembrief was ook beskikbaar op die webwerf. Ons meen die uitslag toon duidelike steun vir samesmelting en die kerkorde bepaal dat die meerderheid stemme die deurslag gee. “Die kerkorde bepaal dat die volgende stap is om die akte van samesmelting te skryf en dit ter insae te laat lê vir twee weke, sodat beswaarmakers geleentheid het om hul standpunt te stel, indien hulle meen die kerkorde is oortree.” Phil du Plessis, wat die proses fasiliteer, sê: “Ek is teleurgesteld oor die voortydige besware - ek dink dit spruit uit ’n vrees vir verandering, veral by ouer lidmate. “Daar is ’n voorstel wat nog nie finaal is nie, dat die naam verander word na Paarl-gemeente (die Strooidakkerk se oorspronklike naam was NG Gemeente Die Paarl), terwyl die kerkgeboue die ou benamings hou. “Daar is beslis voordele by samesmelting. Deur fasiliteite te deel, skep ons geleenthede vir verskillende bedieningstyle, en ons kry die geleentheid vir kruisbestuiwing deur aldrie leraars. Die groter aantal lidmate sal ook ’n bydrae kan lewer tot die uitgawes, soos die duur onderhoud van die ouer geboue. “Die hele proses is aangepak met ondersteuning van die Sinode, wat afgevaardigdes gestuur het om ons by te staan met fasilitering. Die Sinode hou die proses met belangstelling dop, en mag dit ook op ander plekke aanmoedig waar getalle daal.”
More
News
|