Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Spoghuis sukkel om prys te kry

Spoghuis sukkel om prys te kry
 
2010-03-25

Lise Beyers

DIE luukse tuiste van ’n voormalige makelaar van die gedoemde beleggingsmaatskappy, King Finansiële Dienste, is verlede week opgeveil vir die helfte van die huis se huidige verband.

Die makelaar, Alida Nel, is self verlede jaar persoonlik gelikwideer nadat Kingfin van sy troon afgeval het.

Die uitstaande verband op haar luukse woning op die spoglandgoed Waterpoel by Windmeul, is R4,5 miljoen, maar afslaers van Auction Alliance kon slegs daarin slaag om R2,25 miljoen vir die woning te kry.

Talle belangstellendes, kopers en nuuskieriges, het die hitte Vrydag getrotseer om die veiling by te woon.

Behalwe vir die verkoop van die huis, het vier voertuie asook verskeie items huisraad ook onder die hamer gekom.

Hierdie items het byna R800 000 op die veiling gehaal.

Tydens die hoogtepunt van Kingfin se gloriedae, het Nel tot meer as R700 000 per maand verdien ná aftrekkings.

Kingfin, ’n beleggingsmaatskappy wat in Wellington gevestig was, is verlede jaar gelikwideer.

Die insinking van hierdie maatskappy het sowat 10 000 beleggers geraak, baie van wie hul lewenslange spaargeld daarin belê het.

Kingfin het kliënte gelok deur opbrengste van tot 30% per jaar te beloof. Hierdie opbrengste was so aanloklik, dat talle beleggers glo aangemoedig is om verbande op hul wonings uit te neem en die geld by Kingfin te belê.

Kingfin het grotendeels in kommersiële eiendomsontwikkelings belê, maar toe die insinking in die eiendomsmark tref, het hulle kontantvloeiprobleme ondervind.

Daar is gevolglik aandele uitgereik om die maatskappy se kop bo water te probeer hou.

Volgens ’n verslag van die Raad op Finansiële Dienste na Kingfin se sake, is beleggers hierdeur mislei, omdat die uitbreiding van die aandeelhouding sonder ’n prospektus aangepak is.

Sowat R71 miljoen se aandele is verkoop en altesame R680 miljoen is by Kingfin belê.

Die onderneming is besit deur die broers Adrian King, dr Paul King en Stephen King.

Dr Paul King het in Augustus verlede jaar sy eie lewe geneem, kort nadat ’n voorlopige aansoek om likwidasie van Kingfin in die Kaapse Hooggeregshof toegestaan is.

* The luxury home of a previous broker of the liquidated investment company, Kingfin, has been auctioned at half of the value of the outstanding bond.




More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za