Skolier sterf op pad na skool
2010-03-25
’n VREUGDEVOLLE langnaweek en die vooruitsig van die komende skoolvakansie, het Dinsdagoggend tragies geëindig, toe ’n sesjarige skoolkind doodgery is. Geskokte motoriste moes boonop toekyk hoe die liggaam van die dogtertjie geruime tyd op die besige R44 bly lê het. Lee-Cayla Julies, van die plaas Bellvue in Agter-Paarl, het Dinsdagoggend oudergewoonte saam met ander plaaskinders na die R44 gestap waar hulle altyd wag vir die skoolbus wat hulle na Windmeul Primêr vervoer. Sy is vermoedelik op slag dood toe sy die besige pad oorgesteek het na hul bus wat aan die anderkant van die pad gestop het. Een ontstelde ooggetuie het vertel dat die busbestuurder uit die bus geklim het en begin foto’s neem het van die jong meisie se liggaam met sy selfoon. “Hy het nie eens die ambulans gebel nie, ons het dit gedoen.” Nog beskuldigings wat gemaak word is dat die busbestuurder aan die verkeerde kant van die pad stilgehou het om die skoliere op te laai. Busse wat deur die staat gekontrakteer is om hulle te vervoer moet leerders aan die kant van die pad oplaai waar hulle woonagtig is. Maar Nazeem Benjamin, eienaar van Benjamins Busdienste, ontken enige misstap. “My bestuurder het vanaf Durbanville gekom. Hy het links in die R44 gedraai en kort hierna stilgehou om oor die pad te ry om die kinders aan die anderkant op te laai. “Dit wil voorkom dat Lee-Cayla om een of ander rede oor die pad gehardloop het, reg voor ’n aankomende motor in.” Maar Lee-Cayla se pa, Jacques Hendriks, ontken hierdie beweringe. “My dogter sou nooit so iets doen nie. Sy was baie gehoorsaam en sou net die ouer kinders volg.” Lee-Cayla was ’n voorskoolse leerder by Windmeul Primêre Skool. Skoolhoof George Kroneberg het gesê dat hy die voorval betreur en persoonlik ondersoek instel na die gebeure wat gelei het tot die tragedie. “Ons kinders se veiligheid is ons prioriteit. Ek soek antwoorde.” Volgens leerders wat saam met Lee-Cayla was, het die busbestuurder geen aanduiding aan hulle gegee dat hulle moet wag vir hom om te draai nie. Hulle was dus almal op pad om die R44 oor te steek, maar Julies het hulle voorgespring en is voor hul oë deur ’n motor getref. Lee-Cayla word oorleef deur haar pa, ma Liesel Julies, broer Juwayne (3) en suster Elzaandrie (12). * A schoolgirl was killed when she was run down by a vehicle while on her way to school on Tuesday morning.
More
News
|